|

Munisipale beamptes probeer AfriForum stuit

Die burgerregte-organisasie is tydens sy laaste week van die Maand van Selfstandigheid-veldtog twee keer deur munisipale beamptes probeer verhinder om met werksaamhede voort te gaan.

ʼn Plaaslike koördineerder van AfriForum se Potchefstroom-tak is deur ʼn verkeersbeampte van die Kaunda Distriksmunisipaliteit gearresteer, nadat hy ’n bevel om padinfrastruktuuropgraderings te staak, geïgnoreer het. Die plaaslike staatsaanklaer het egter geweier om die koördineerder aan te kla omdat die verkeersbeampte nie by magte was om die arrestasie uit te voer nie. Die koördineerder is intussen vrygelaat.

ʼn Herrie het ook verlede week tussen AfriForum se Ermelo-tak en die Msukaligwa Munisipaliteit se direkteur van veiligheid, mnr. Daniel Maluleke, losgebars nadat hy rassistiese uitlatings gemaak het terwyl die tak besig was om kruisings, voetoorgange en spoedhobbels in dié dorp te verf.

Volgens ʼn AfriForum-kontrakteur, mnr. Tienie de Beer, het Maluleke vir ʼn ander AfriForum-kontrakteur beveel om uit sy pad te kom sodat hy ʼn foto van die AfriForum-trok kon neem, waarna hy gesê het dat hy niemand van die burgerregte-organisasie toestemming gegee het om daar te werk nie.
Daarna het hy gesê dat AfriForum en wit mense op die plaas moet gaan werk en dat hulle niks in sý dorp verloor het nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het na afloop van dié voorval op Facebook geskryf dat hy keelvol is vir dié soort “antiwit-rassisme”.
“Mag wittes nie help om dorpe te verbeter nie?”, het hy gevra.

Ondanks dié uitdagings het AfriForum steeds tydens die vierde week van sy veldtog sowat 7 114 km gereis om in ʼn totaal van 15 dorpe altesaam 40 stoptekens op te rig. Sowat 1 210 liter verf is ook gebruik om altesaam 62 stoptekens en 42 spoedhobbels en voetoorgange te verf.

Die veldtog is verlede week in dele van Marble Hall, Pretoria- Oos, Groblersdal, Postmasburg, Wolmaransstad, Westonaria, Upington, Kimberley, Barkley-Wes, Vereeniging, Hartswater, Vanderbijlpark, Centurion, Harrismith, Potchefstroom, Bethlehem en Heidelberg uitgerol.

Volgens Hein Gonzales, AfriForum se projekwoordvoerder, het AfriForum besluit om die Maand van Selfstandigheid-veldtog aan te pak nadat hul in September vanjaar ’n veiligheidsoudit op munisipale paaie gedoen het. Dié oudit het bevind dat sommige paaie nie aan die minimumvereistes voldoen wat in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit word nie.

Gonzales meen dat baie gemeenskappe gekonfronteer word met grootskaalse munisipale krisisse wat inwoners onder geweldige druk plaas.
“Met hierdie veldtog wil AfriForum vir gemeenskappe wys dat hulle nie in die staat se oë hoef te kyk vir goeie dienslewering nie. Ons gaan dit doen deur projekte van stapel te stuur wat hulle bemagtig en die geleentheid gee om hul regte tot ʼn skoon en veilige omgewing in hul eie hande te neem.”

Soortgelyke plasings