MRK-verhoor: Wit mense het vertroue in gesprekke oor rassisme verloor

 

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag tydens ’n voorlegging aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gesê dat baie wit mense vertroue in gesprekke oor rassisme verloor het omdat nie almal in die land oor dieselfde kam geskeer word nie. Roets het ook gesê dat baie media-instellings selektief is in hul verslaggewing oor rassisme.

“Geweldmisdade waar wit mense die slagoffers en swart mense die oortreders is, word in die meeste gevalle as ’n ‘gewone misdryf’ afgemaak, selfs wanneer daar bewyse is dat ’n rassistiese anti-wit agenda die motivering vir die misdryf was. In gevalle waar ’n wit persoon die oortreder en ’n swart persoon die slagoffer is, word dit egter summier as ’n daad van rassisme bestempel, selfs in die afwesigheid van enige bewyse van rassisme.”

In sy aanbieding het Roets verskeie vergelykings gemaak om te illustreer dat wit rassisme aggressief veroordeel word, terwyl swart rassisme dikwels oorgesien word.

“Dit is eksponensieel erger – en volgens die media ook meer betreurenswaardig – om in Suid-Afrika vir ’n swart skoolmeisie te sê dat sy nie haar hare in ’n Afro skool toe mag dra nie, as wat dit is vir ’n swart persoon om vier wit mense te vermoor en dan in die openbaar te sê dat hy dit gedoen het omdat hulle wit was.”

Roets het ook die uitsprake van die ekonoom Chris Hart en Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, met mekaar vergelyk.

“Die voormalige Standard Bank-ekonoom Chris Hart is berispe en uiteindelik afgedank omdat hy ’n ekonomiese waarneming getwiet het – gebaseer op sy navorsing – dat baie swart Suid-Afrikaners ’n geregtigheidsmentaliteit (entitlement mentality) het wat ’n negatiewe impak op ekonomiese groei het. Aan die ander kant het Lulu Xingwana, minister vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, valslik op internasionale televisie verklaar dat jong Afrikanermans in die Calvinistiese geloof grootgemaak word en glo dat hulle vrouens, kinders en alles besit en ’n lewe mag neem omdat hulle dit besit. Hoewel Xingwana om verskoning gevra het, is sy steeds met haar pligte in die kabinet gemoeid.”

Roets het ook beklemtoon hoe anders die reaksie sou wees as ’n wit persoon dieselfde uitlatings as Xingwana gemaak het. Hy het ook gesê dat hy haar uitlatings as uiters aanstootlik beskou omdat dit die kern van sy identiteit as ’n Afrikaner beledig.
Roets het gesê dat AfriForum sal voortgaan om rassisme te beveg en om aan gesprekke oor rassisme deel te neem. Die organisasie sal ook binnekort die besonderhede van ’n verskerpte veldtog teen rassisme aankondig.
 

Soortgelyke plasings