|

Motsoeneng: Doring in mediavryheid se vlees

Die ondersoekende joernalis Jacques Steenkamp het vandeesweek aangekondig dat hy besluit het om te bedank by die SAUK.

Steenkamp, wat voorheen by Vaalweekblad, Beeld en Rapport as senior misdaadverslaggewer gewerk het voordat hy in 2013 by die SAUK aangesluit het, se laaste werkdag by die openbare uitsaaier is op 4 November.

Hy is deel van die sogenaamde SAUK-8 wat onlangs afgedank is nadat hulle beswaar gemaak het teen die openbare uitsaaier se beleid dat daar nie beeldmateriaal van gewelddadige betogings uitgesaai mag word nie.

Volgens sy vrou, Nadia, oorweeg Steenkamp dit al ’n geruime tyd om oorsee te gaan. Die onlangse verwikkelings en frustrasie by die SAUK het sy besluit net versterk.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat hy uiters gefrustreerd geraak het en meen dat mediavryheid by die SAUK in gedrang sal bly solank Hlaudi Motsoeneng, bestuurshoof, by die openbare uitsaaier betrokke is.

Hoewel die uitsaaier in Julie in ’n onverwagse wending vir Steenkamp en ses ander geskorste joernaliste heraangestel het, bly die omstandighede volgens Steenkamp by die SAUK onveranderd.

“Hy is moedeloos en reg vir ʼn nuwe begin,” meen sy.

Luidens mediaberigte het die SAUK-8 ook aansoek om direkte toegang tot die grondwetlike hof gedoen oor die toepassing van sensuur deur die openbare uitsaaier.

Luidens Steenkamp se Facebook-inskrywing is hy hartseer om te gaan en sal hy deel bly van die SAUK-8 se geveg teen die openbare uitsaaier.

Soortgelyke plasings