--> -->
Spyskaart +

Mondli en Max moet rassisme bewýs (en álle rassisme uitwys)

April 6, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Ná jare van ANC-verdagmakery en selfs wetgewende maatreëls – om nie eens van die drama met Hlaudi Motsoeneng by die SAUK te praat nie – is Suid-Afrika steeds geseënd met ’n vrye media en onkreukbare joernaliste wat hul werk fantasties doen. Helaas is die land ook opgesaal met redakteurs en joernaliste wat eerder aktiviste wil wees – en dit boonop op uiters twyfelagtige en onwetenskaplike maniere probeer doen. Van eersgenoemde is daar baie, asook heelwat van laasgenoemde.

Daar is min dinge wat hierdie land so verdeel soos rassisme. Dit is weliswaar so dat amper enige onderwerp deur ’n rasseprisma gesien kan word en as ’n mens na sosiale media kyk, gebeur dit ook baie. Dit is ook een van die onderwerpe waaroor nog min goeie navorsing gedoen is. ’n Mens sal dink dit moet meer gebeur, maar die ANC se rassedogma en politieke korrektheid het gesorg dat dit byna taboe is.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) onderneem egter sulke studies en het onlangs weer ’n verslag met verrassende bevindinge daaroor uitgereik. Ek sê “verrassend” omdat dit nie strook met die heersende dogma in politieke of mediakringe nie. Dit is dan ook die rede waarom Mondli Makhanya, redakteur van City Press, onlangs sy mond daaroor (en natuurlik ook oor AfriForum) in ’n meningstuk getiteld Dear IRR, racism is real in sy koerant uitgespoel het. ’n Mens moet egter in gedagte hou dat hy voorheen slegs vir koerante soos The Sunday Times en Mail & Guardian gewerk het – almal met min of meer dieselfde redaksionele beleid en ideologie as City Press.

Volgens hom kan slegs wit mense rassiste wees en moet “ons” nie geflous word deur te dink prominente rassiste soos Vicky Momberg en die “AfriForum-klomp” is die uitsonderings nie – lees: Daar is baie wít rassiste daarbuite.

Eerstens, ongeag wat nou met Vicky Momberg gebeur het ten opsigte van gevangenisstraf, sy het wel die k-woord herhaaldelik gebruik. Tweedens, sy is geen prominente persoon nie. Sy is ’n doodgewone persoon wat die verkeerde goed op die verkeerde tyd aan ’n paar mense gesê het en op kamera vasgevang is terwyl sy dit doen. Sy het dit nie daagliks aan duisende Twitter-volgelinge of by byeenkomste uitbasuin soos bekende swart rassiste nie. Die media, die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het net ’n buitengewoon groot bohaai daaroor gemaak.

Dan sleep Makhanya sommer vir AfriForum by en insinueer dat ons op dieselfde vlak as Momberg is wat rassistiese uitlatings betref. En daar kom ek sommer klaar by die punt van hierdie artikel: Bewys dit, Mondli. Dit is egter klaarblyklik ’n taak wat hopeloos te veel werk is vir iemand wat duidelik te lief is vir lui aannames en oorvereenvoudigde stereotipering. Kan hy na enigiemand in AfriForum die vinger oor rassistiese beledigings wys? Het ons iets gesê of gedoen wat op rassisme dui? Dis nie duidelik uit Makhanya se smaadskrif nie en hy sal dit ook nie kry nie.

Hy kon egter terselfdertyd nie vinnig genoeg die SAIRV se bevindinge sonder teenbewyse met hoon besmeer nie. Die absurditeit van sy rubriek is dat hy dit eers bekla hoedat ons in hierdie land nie ’n rasionele gesprek oor ras kan hê nie en dan gelyktydig goeie navorsing beklad en dan self irrasioneel raak!

Hy glo byvoorbeeld nie dat slegs 5% van swart mense graag wil hê dat die regering rassisme moet oplos nie en dat slegs 1% wil hê dat regstellende aksie bespoedig moet word nie. Oor die bevinding dat 77% van swart respondente in die studie aangedui het dat hulle nog nooit persoonlik rassisme ervaar het nie, het hy sardonies gevra: Waar het hulle hierdie mense gekry?

Hy erken darem sy tekortkominge deurdat hy na homself as ’n “lowly newspaperman” verwys as hy sê hy is nie iemand wat wetenskaplike navorsing moet bevraagteken nie. Die vraag is: Hoekom doen hy dan presies dít as hy geen teenbewyse behalwe bespiegeling en innuendo’s kan lewer nie?

Ewenwel, hier is dan so ’n paar verklarings vir die SAIRV se (skynbaar geloofwaardige) navorsing. Dis moeilik om altyd 100% te weet hoekom iets is soos wat dit is en goeie navorsing kan ook foute hê, maar ek as ontleder kan maklik ’n paar antwoorde waag om hul bevindinge te staaf.

Die rede waarom 77% van swart mense (toevallig ook die hoeveelheid swart mense wat al in vorige SAIRV-opnames aangedui het dat hulle nie kwotas in sport steun nie) nog nooit persoonlik rassisme ervaar het nie is omdat (verrassing!) hulle werklik nie rassisme ervaar nie! Verreweg die meeste wit mense loop nie heeldag rond en beledig swart mense nie. En die vraag is juis so geformuleer om te vra of iemand al “persoonlik” rassisme ervaar het (soos iemand wat jou iets toesnou) en nie of iemand al ’n algemene rassistiese opmerking oor ’n groep mense op sosiale media gemaak het nie. Verskeie peilings het ook al getoon wit mense is deesdae baie minder rasbehep as swart mense.

Die ander hoek hierop is dat aangesien wit mense slegs 9% van die bevolking uitmaak en meestal in die stede en groot dorpe se middelklaswoonbuurte woon, die oorgrote meerderheid swart mense in die townships, platteland en selfs middestede nooit eens wit mense sien nie. Daarvandaan die realiteit dat hulle werklik nie rassisme ervaar nie – altans nie van wit mense af nie. Maar dis nie wat Mondli wil hoor nie en ons moenie nou ’n lekker liegstorie met feite bederf nie.

Niemand ontken dat rassisme bestaan nie. Trouens, dit is oral ter wêreld te vinde en 23% van swart mense het wel aangedui dat hulle al persoonlik rassisme beleef het. Die probleem is egter dat Mondli en kie uitsonderings soos Momberg se tirade tot die norm wil verhef, terwyl dit eintlik andersom moet wees. Hulle ontken ook op opsienbarende wyse enige van die EFF en diesulkes se blatante en kru anti-wit-rassisme. Sy agendas en vooroordele is skreiend.

Wat die regering se stryd teen sowel rassisme as regstellende aksie betref, maak die syfers perfekte sin. Regstellende aksie het oral misluk waar dit al toegepas is omdat dit altyd die teenoorgestelde uitwerking het as wat die bedoeling van die implementeerders is. Groei is die antwoord, maar Mondli glo die ANC se mislukte herverspreidingsbeleide en wraak maak die meeste sin. Regstellende aksie is ook altyd ’n hersenskim-oplossing om die elite (soos Makhanya) se gewetes te salf en die politieke heersersklas in beheer te hou sonder om werklik die aangewese groepe se probleme op te los.

Aangesien verteenwoordigendheid al so ver in die staatsdiens gevorder het en omdat winkelassistente en kassiers oral omtrent slegs swart is (selfs toenemend in die Wes-Kaap), gaan meeste swart mense nie meer glo dat wit mense als beheer en besit nie. “Witmonopoliekapitaal” as ’n term is nou al ook as ’n infame leuen ontbloot. Die vrugte van regstellende aksie is oral te sien: Swak dienslewering, staatsbeheerde ondernemings wat onderdeur is en ’n algehele verlies aan kundigheid. Dis net jammer Makhanya wil nie kennis daarvan neem nie.

Tewens, en in die lig van bogenoemde, is dit nie vreemd as die meeste swart mense glo dat die regering baie ander prioriteite as die rassekwessie moet hê nie. Vir ’n swart persoon in landelike Limpopo of die Oos-Kaap is rassisme ’n weglaatbaar klein prioriteit. Indien hy of sy jonk is, dink hulle waarskynlik om na die stede te trek en dan is goeie onderwys, werk en geld (en nie noodwendig grond nie) waarskynlik hul grootste prioriteite. Op ’n punt moet jy regtig ophou glo dat mense wat jy nooit sien nie, verantwoordelik is vir al jou probleme. Die respondente in die studie het dit grootliks besef, maar klaarblyklik nie Mondli nie. Persoonlik dink ek ook die ANC-regering se gevestigde belange om rassisme te probeer aanhits en lewendig te hou om hul eie mislukkings weg te steek, maak hulle juis ongeskik om iets daaraan te doen.

Ten slotte is my boodskap aan Mondli en diesulkes soos volg: Lewer darem sekere bewyse van rassisme as julle dit so gretig aan die groot klok wil hang. Max du Preez het ook al in die verlede geskryf oor “hoe ons almal mos weet hoe rassisties Afrikaners op die platteland is”. Nee, Oom Max, ons weet nie. Bewys dit. En die teenwoordigheid van ’n tweekleurhemp gaan my nie oortuig nie.