|

Moedertaalonderrig is die sleutel tot sukses

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag by die Solidariteit Beweging se toekomsberaad oor onderwys gesê gehalte-onderrig is die sleutel tot ’n menslik gesproke, volhoubare suksesvolle toekoms in Suid-Afrika.

Suid-Afrika het egter ’n dilemma om gehalte-onderrig te bied, aangesien sowat 80% van skole disfunksioneel is. Die gevolge hiervan is dat tot tweederdes van kinders wat hul skoolloopbaan in gr. 1 begin nie tot in matriek vorder nie.

Bailey het op die belangrikheid van moedertaalonderrig gewys om gehalte te verseker. Prestasie in Afrikaanse skole is beter, maar daar is ’n toenemende aanslag op dié skole en die uitnemendheid wat dit bereik, het sy gesê.

Afrikaanse skole, veral op die platteland, ondervind ook al hoe meer probleme om geskikte en bekwame onderwysers te kry, terwyl daar ook probleme rondom handboeke is.

Die mees kommerwekkende is egter die owerheid se aanslag op skole se taalbeleid. “Afrikaanse skole se sukses, kan van hulle slagoffers maak.”

Volgens Bailey misluk die owerheid toenemend om te verduidelik hoe enigiemand bevoordeel word deur meer mense van hul taalregte te ontneem.

Sy het daarop gewys dat die stryd om die behoud van Afrikaanse onderrig in die toekoms net feller sal word. Dit is daarom belangrik dat die burgerlike gemeenskap sterk standpunt teen die aanslae moet inneem en dat ouers nie moet skroom om kapsie teen onregmatige optrede van departemente te maak nie.

Volgens haar is dit ook belangrik om met vennote saam te werk soos beheerliggaamorganisasies soos Fedsas. Goeie verhoudinge met die media is ook nodig om die klimaat te skep waarbinne die stryd om idees en regte kan plaasvind. Sy het ook gewys op ander strategieë soos hofsake, skikkings en die skep van eie instellings wat die toekoms van gehalte-onderrig in Afrikaans sal waarborg.

 

 

Soortgelyke plasings