Misleiding, verdeling en die vervreemding van Puk-studente


AfriForum Jeug veroordeel die videoboodskap van prof. Fika Janse van Rensburg, adjunkvisekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, wat op 22 Januarie 2018 op Facebook geplaas is.
Dié video spreek twee kwessies aan, naamlik die universiteit se taalbeleid, en, volgens hóm, dat eerstejaarstudente voel hul individualisme en vryheid van assosiasie word geskend. Die NWU-bestuur het, na aanleiding hiervan, koshuise belet om tussen 8:00 en 17:00 enige koshuisdrag tydens die registrasie-en-oriënteringsprogram (R&O-program) te dra.

“Ouers het hul kinders met geruste harte by die Puk afgelaai, want hulle is deur prof. Fika en die NWU-bestuur mislei om te glo dat hul kinders by die Puk met sy ryk studentelewe en unieke kampuskultuur gaan studeer. Dít is tans verseker nie die geval nie,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture.

Afrikaanssprekende studente is gevra om te verdaag uit ’n vergadering wat prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, met ’n bepaalde groep studente in die Sanlam Ouditorium op die Puk-kampus gehad het, waarna hy met nie-Afrikaanssprekende studente alleenlik gesels het.

“Skep hierdie tipe aksies nie juis verdeeldheid wat lei tot die vervreemding van ’n sekere groep studente nie? Die groter meerderheid van die groep eerstejaars wat gevra is om te verdaag, het gesê hulle is tevrede met hoe die R&O-program verloop,” sê Fourie.

AfriForum Jeug is van mening dat die R&O-program in die verlede gewerk en sukses behaal het met die bevordering van eenheid onder studente. Dit is ook in hierdie tyd waar studente die eerste voorsmakie van dié Puk-kultuur proe. Dieselfde kultuur wat deur prof. Fika in sy video as nét ’n bestaande kultuur beskryf word.

“‘Integrasie beteken ons moet leer van mekaar’, was prof. Fika se woorde in die video, maar waarom word die opinies van individue hoër geag as dié van die meerderheid van die eerstejaars op die Puk? Die besluite wat tans afgedwing word, weerspreek egter wat prof. Fika in sy video sê,” sluit Fourie af.

Soortgelyke plasings