|

Misdaadsyfers wys SA is in lae intensiteit burgeroorlog gewikkel

As na die misdaadtendense en -syfers van die afgelope 20 jaar gekyk word, is dit duidelik dat Suid-Afrika in ’n “lae intensiteit burgeroorlog” gewikkel is.

So meen dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).

Cronje het die stand van misdaad vanoggend by AfriForum se nasionale kongres in Warmbad onder die loep geneem. Hy het uitgewys dat die land se moordkoers vergelykbaar is met die van lande soos El Salvador en Colombia wat daarop dui dat ons in ’n oorlog gewikkel is. Die moordkoers is sowat 31 per 100 000 per jaar.

Cronje het op die skrikwekkende omvang van daaglikse misdaad gewys en gesê daar is sowat 700 gevalle van huisbrake per dag wat aangemeld word. Daarteenoor is daar sowat 100 gevalle van sogenaamde trio-misdade. Dit is ernstige, gewelddadige misdade wat huisbrake, nie-huisbrake en kapings insluit. Waar daar in 1994 sowat 25% van sulke soort misdade was, het dit tot meer as 40% toegeneem. “Die slotsom waartoe mense kan kom, is dat misdade al meer gewelddadig, gefokus en spesifiek geraak het en dat mense en hul eiendom en besittings spesifiek geteiken word.”

Die daaglikse voorkoms van ernstige misdaad sluit in 47 moorde per dag, 127 seksuele misdrywe, 502 ernstige aanrandings, 327 voorvalle van roof met verswarende omstandighede en 148 voorvalle van roof.

Cronje het daarop gewys dat die moordkoers van provinsie tot provinsie verskil. Dit is die hoogste in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat en die laagste in Limpopo.

Cronje het ook na die misdaadtendense onder die leierskap van verskillende polisiekommissarisse gewys. Die misdaad was onder die leierskap van Bheki Cele die meeste onder beheer, hoewel dit ook met die aanbied van die Wêreldbeker-Sokkertoernooi gepaard gegaan het. Onder die leierskap van Riah Phiyega het dinge slegter begin gaan, aangesien moorde wat sedert 1994 afgeneem het, na haar aanstelling in 2011 weer begin styg het.

Die impak wat misdaad het, is ook deur Cronje uitgewys, wat gesê het daar was sedert 1994 ’n drastiese toename in private veiligheidsmaatskappye en mense in die bedryf. Dit het van sowat 100 000 tot meer as 400 000 toegeneem.

 

 

Soortgelyke plasings