|

Misdaadkrisis in SA noodsaak ’n dringende veiligheidsberaad

Die misdaadkrisis in die land groei daagliks en die polisie het klaarblyklik nie die vermoë om dit hok te slaan nie.

Dr. Chris de Kock, ’n onafhanklike misdaadontleder, het onlangs gesê die polisie se Back to Basics-strategie werk nie doeltreffend genoeg nie én dit behoort dringend hersien te word.

De Kock het misdaadstatistieke van 1 April tot 31 Desember 2016 ontleed en vergelyk met misdaadsyfers van 2003. Die ontleding is gedoen nadat die ministerie in die parlement gesê het hoewel moorde en poging tot moorde gestabiliseer het, het trio-misdade (huisrooftogte, sakerooftogte en motorkapings) skerp gestyg.

Dit is in die lig van die kommerwekkende tendense en die algemene publiek se vrese en verlies in vertroue in misdaadbekamping dat die burgerregte-organisasie AfriForum besluit het om in samewerking met die Solidariteit Beweging ’n veiligheidsberaad te hou met die tema: Kom ons maak ons strate veilig!

Lede van AfriForum, die Solidariteit Beweging en die publiek word uitgenooi om die beraad by te woon wat op Saterdag 6 Mei van 9:00 tot 14:30 by die Voortrekker Monument in Pretoria gehou sal word. Om te registreer gaan na www.veiligheidsberaad.co.za

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, meen die beraad is dringend nodig omdat gemeenskappe van Suid-Afrika moet saamwerk om vryheid, voorspoed en veiligheid in die land te verseker.

Doel van die beraad is ook om AfriForum se veiligheidstrategie, genaamd Projek Nehemia, bekend te stel wat nasionaal geïmplementeer gaan word.

Die projek fokus spesifiek op die aanslag wat gemeenskappe binne die wetlike raamwerk teen geweldenaars moet voer. Die strategie is inklusief en het ten doel om alle gemeenskappe met inligtingsbestuur en misdaadvoorkoming deur middel van ’n nasionale netwerk te help.

Tydens die beraad sal gefokus word op:

  • Die vestiging van ’n nasionale operasionele vermoë binne die wetlike raamwerk.
  • Die vestiging van ’n nasionale veiligheidsstelsel in samewerking met alle rolspelers.
  • Die skep van ’n nasionale bewustheid om gemeenskappe te mobiliseer om saam te werk in die stryd teen misdaad.
  • Om nasionale en internasionale steun te werf.

Kundiges vanuit die Solidariteit Beweging en die publiek gaan verskeie kwessies tydens die beraad bespreek waaronder internasionale voorbeelde van gemeenskapsamewerking teen misdaad, sinergie tussen gemeenskappe en staatsinstansies, die bestuur van gemeenskapstrukture en die rol van die burgerlike samelewing in die stryd teen misdaad.

Daar sal ook ’n spreker wees wat die situasie in Zimbabwe sal toelig en wat moontlik kan gebeur as Suid-Afrikaners nie nou opstaan nie.

Misdaadstatistieke vir 2015/2016

 

Moord: 18 673

Poging tot moord: 18 127

Seksuele oortredings: 51 895

Verkragting: 42 596

Aanranding: 164 958

Aanranding met die opset om ernstig te beseer: 182 933

Roof met verswarende omstandighede: 132 527

Kaping: 14 602

Huisbraak: 250 606

 

*(Inligting: Africa Check)

Soortgelyke plasings