Spyskaart +

Misdaad kán met Goue driehoek verslaan word

Mei 8, 2017 deur Flip Buys

Flip Buys

In die nag van 7 Oktober 1969 het die rustige stad van Montreal in Kanada, in ‘n nag van misdaad, geweld en terreur ontplof. Hierdie gebeure word bykans 50 jaar later steeds deur Polisiemagte bestudeer, om lesse uit die verband tussen misdaad en wetstoepassing te leer. ‘n Staking van die Polisie en Brandweer in Monteal, is na dekades steeds die beste voorbeeld van hoe ‘n wêreld sonder ‘n sterk Polisiemag sal lyk. Die dreigende staking oor griewe wat oor ‘n lang tyd opgebou het,  is nie ernstig deur die stadsvaders opgeneem nie. Geen voorsorg is getref toe die staking begin nie. Daar kon tog eintlik niks in die slaperige Montreal van 1969 gebeur nie.

Maar toe nou nie. Die gewoonlik rustige en wetsgehoorsame stad het bykans in vlamme opgegaan! Toe 16 uur van misdaad en wanorde uiteindelik deur die haastige inroep van die Weermag en Provinsiale Polisie en ‘n Parlementêre noodsitting van Quebec beëindig is, het die rook letterlik oor die stukkende stad gehang. 10 Banke is beroof, meer as 100 winkels geplunder, 12 brande het gewoed, miljoene dollars se skade is aangerig, en sowat 40 vragte glas was nodig om winkelvensters te herstel.

Die belangrikste les hieruit is treffend opgesom deur Lord William Rees-Mogg, voormalige redakteur van die Londonse Sunday Times. Hy het gesê dat die “logika van geweld is dat geweld net in toom gehou kan word deur die vrees vir groter geweld”. Daardeur het hy bedoel dat Misdadigers net afgeskrik word as hulle weet dat die Polisie groter geweld teen hulle sal gebruik, as wat hulself teen hul slagoffers gebruik. Geweldsmisdaad, kan dus net deur geloofwaardige afskrikking voorkom word. Daardeur word nie bedoel dat daar nie ook ander oorsake soos sosio-maatskaplike- of demografiese redes vir misdaad bestaan wat ander oplossing verg nie. Die punt is bloot dat niemand veilig sal wees as die wil en vermoë om burgers veilig te hou, nie bestaan nie.

Burgerlike betrokkenheid

Maar wat beteken dit vir Suid-Afrika? Die jarelange wanbestuur van die Polisiediens deur die regering, het veroorsaak dat die Polisie nie meer ‘n groot genoeg afskrikking vir misdadigers inhou nie. Dit is die grootste rede vir die gewelds- en misdaadplaag wat ons samelewing so teister. Wetsgehoorsame burgers bly toegesluit in tronke van heinings, tralies en mure, terwyl misdadigers vry buite rondloop en roof, steel en plunder.

Maar ons kan nie net die Polisie verwyt nie. Na 1994 het daar ‘n soort vrywillige “eensydige ontwapening” plaasgevind. Mense het in massas hulle wapens gaan inhandig, en nie meer hulle kinders geleer om wapens te hanteer nie. Dis asof hulle gedink het dat wettige selfverdediging in die nuwe bedeling uit die mode geraak het of nie meer nodig sou wees nie. Daarom het die verswakking van die Polisie en die eensydige ontwapening van die burgery, tot ‘n soort onverklaarde “misdaadoorlog” deur geweldsmisdadigers gelei. Hierdie kriminele het soos roofdiere op die grootliks ongewapende en meestal weerlose burgery toegesak. Elke dorp en stad en straat en plaas het ‘n soort “Montreal 1969” geword.

Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard, het dekades gelede al gesê dat die Afrikaner se geskiedenis ‘n stryd om oorlewing was, en nie ‘n stryd vir oorheersing nie. Burgerlike betrokkenheid in veiligheid is niks nuuts nie, omdat Afrikaners nog altyd hulself beskerm het. Ons het ook nie net na ons eie veiligheid gekyk nie, maar nog altyd van die Voortrekkertyd af vennootskappe met ander groepe in die land aangegaan. Lees maar oor die Voortrekkers se alliansies, President Paul Kruger se diplomatieke betrekkinge, en die ou Weermag se vennote soos Unita in Angola. Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om sy burgers veilig te hou, maak dit noodsaaklik dat die gemeenskap nou weer saamstaan om hulleself te beskerm.

Wêreldwye verskynsel

‘n Gemeenskap wat saamstaan om hul eie veiligheid te verseker is ook nie net ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Die Israelse militêre strateeg  Martin van Creveld, sien geweldsmisdaad as ‘n globale probleem en stel dit as volg: “Namate misdaad toeneem en die vermoë van state en regstelsels om hul burgers te beskerm afneem, bestaan die gevaar dat misdaad in ‘n lae intensiteit “oorlog” ontwikkel, volgens rasse-, godsdienstige-, sosiale en politieke grense. “Staatsveiligheidsdienste sal waarskynlik gaandeweg vervang word deur groeiende privaat veiligheidsdienste en selfs stedelike gemeenskappe wat beter in staat en toegerus sal wees om die bevolking te beveilig”.

Misdaad en terreur

Van Creveld waarsku ook dat die bestaande grense tussen misdaad en terreur (oorlog) kan vervaag en selfs mag verdwyn, iets wat reeds in lande soos Libanon, Peru, Sri Lanka, en Colombia gebeur het. Volgens hom kan geweld net afgeskrik word deur oorweldigende mag. Let wel dat die klem lê op afskrikking deur mag, en nie deur die gebruik van mag nie, want as jy die mag het, hoéf jy dit nie te gebruik nie. Niemand is lus om ‘n gewapende gemeenskap wat homself wil en kan verdedig aan te val nie.

Die bekende skrywer Robert Kaplan waarsku in sy boek “The Coming Anargy,” oor die wêreldwye toename in geweldsmisdaad. Hy sê dat “namate staatsmag kwyn en daarmee saam die staat se vermoë om kwesbare groepe te beskerm afneem, bevolkings en kultuurgroepe regoor die wêreld, al meer op hulleself aangewese gaan wees. Persoonlike veiligheid gaan vir mense baie belangriker as politieke vraagstukke word”. Burgerlike betrokkenheid by gemeenskapsveiligheid kom algemeen voor in die VSA, Indië, Brittanje en Nieu-Seeland. In talle arm lande sonder sterk polisiemagte, handhaaf tradisionele owerhede doeltreffend wet en orde.

Dit ís nou maar so- in die woorde van die Britse veiligheidskenner John Keegan, dat die “gety van konflik” van die armes na die rykes vloei.  Gemeenskappe het die reg én die plig om hulleself op enige wettige manier te beskerm, volgens ons Grondwet, wetgewing en die Internasionale Reg.

Goue driehoek

Die Goue driehoek van ‘n veilige samelewing, is orals ter wêreld ‘n sterk Polisiemag, doeltreffende Privaatsekuriteit, en ‘n goed georganiseerde burgery. Ons sal veilig kan slaap as ons beter georganiseerd is as die misdaadbendes. Indien een van hierdie drie bene nie goed werk nie, vergroot dit die las op die ander twee. Gelukkig is Suid-Afrikaners histories nog altyd betrokke in die beskerming van ons eie gemeenskappe. Dis nie ‘n nuwe ding nie. Dink maar aan die geskiedenis van die Burgermagte, Polisiereserviste, Kommando’s, Burgerlike Beskerming en Buurtwagte. Wettige, werkende, opgeleide en toegeruste buurtwagte wat in vennootskap met die Polisie en Privaatsekuriteit werk, is die beste afskrikking teen die misdaadvlaag wat die land teister. Weerbaarheid is die enigste antwoord op weerloosheid. Die groot voordeel is dat nuwe tegnologie en kommunikasietoerusting besig is om die wêreld van misdaadvoorkoming onherkenbaar te verander. Die militêre geskiedenis is nie verhaal van oorwinnings deur meerderhede nie, maar deur beter tegnologie. Tegnologie gee vir wetsgehoorsame burgers ‘n mededingende voordeel bo misdadigers. Die ontwikkelings wat ek die afgelope maande by AfriForum en ons vennote hiervan gesien het, gee mense moed dat misdaad verslaan kan en gaan word.

Die Goue driehoek se grootste waarde lê in misdaadvoorkoming. Hier is drie goue reëls van die Chinese militêre wysgeer Sun Tzu van toepassing: “Die voorkoming van geweld en bedwinging van die vyand is beter as om ‘n geveg te wen”. Daarom moet Buurtwagte in staat wees om deur sigbare magsvertoon (patrollies) en weerbaarheid inderwaarheid “minimum geweld” toe te pas, sodat dit nooit nodig sou wees om “maksimum geweld”- naamlik wettige wapengeweld ter selfverdediging- te gebruik nie. Maar onthou ook Sun Tzu se tweede goue reël: “Die geskiedenis leer ons om nie staat te maak dat die vyand nie gaan aanval nie, maar dat ons reg is om te wen wanneer hy kom”. Churchill het tereg gesê jy kan nie kies dat daar nie konflik gaan wees nie, jy kan net kies om te wen wanneer dit kom. Dit sluit aan by Sun Tzu se derde reël: “Wen voordat jy veg”, waarmee hy bedoel dat jy die omstandighede moet skep wat die vyand se nederlaag sal verseker.

Vyf sirkels

Die skep van hierdie omstandighede wat afskrik of ‘n oorwinning verseker behels die vestiging van “vyf veiligheidsirkels” om jou. Die eerste is om jou woongebied en straat (of plaasdistrik), die tweede is om jou erf, die derde om jou huis, die vierde om jou slaapgedeelde, en die vyfde jou persoonlike bewapening.

Tienpunt veiligheidsplan

Ons wil ek dit duidelik stel dat ons geen politieke doelwit met ons Buurtwagstrategie nastreef nie. As radikale politici ons dreig moet ons hulle glo en daarvoor beplan, maar met die klem op veiligheid eerste en laaste. Dit gaan eerste en laaste om ‘n veilige toekoms te verseker vir ons lede, ons gemeenskap en vir die breër bevolking. Dit is so dat ons in ‘n land leef waar geweld soos ‘n veldbrand kan versprei, soos die xenofobiese aanvalle of wat in Coligny gebeur het. Die gevaar van ‘n “oorspoel”-effek van diensleweringsproteste moet ook nie buite rekening gehou word nie.

  1. Besef dat Misdadigers ‘n onverklaarde “misdaadoorlog” voer, en beplan daarvoor.
  2. Goue Driehoek van SAPS, Sekuriteit en Buurtwagte kan die stryd teen misdaad wen.
  3. Bewapen jouself (wettig), en leer om wapens veilig en doeltreffend te gebruik.
  4. Veiligheid deur netwerk van weerbaarheid: help om jou Buurtwag goed te organiseer.
  5. Sluit vennootskappe: SAPS, GPF’s, Sekuriteit, Swart gemeenskappe, Media ens.
  6. Bou verhoudinge: Wedersydse erkenning en respek is die regte en veilige ding.
  7. Hou aan veg vir die hervorming van die SAPS om te verbeter.
  8. Bevorder ekonomiese beleid wat werk skep en ander oorsake aanspreek.
  9. Wees bewus van die verband tussen demografie en misdaad: konsentrasie bevorder veiligheid.
  10. Ons kan nie keer dat die “see” rof raak nie, maar ons kan eilande van veiligheid skep.

Opsommend. Goeie organisasie, deeglike opleiding, nuwe tegnologie, aktiewe gemeenskapsteun en samewerking met die Polisie en Privaatsekuriteit gee aan buurtwagte ‘n klinkklare voorsprong bo kriminele bendes. AfriForum en die Solidariteit Beweging gaan ons mense nie alleen los nie. Ons gaan op die voorpunt van die stryd teen die misdaadplaag veg tot ons saam die stryd gewen het. Gemeenskapskrag is sterker as misdaadmag. Kom ons vat mekaar se hande, vorm ‘n landswye veiligheidsnetwerk van staal, en maak ons strate en ons gesinne veilig. Ons kan saam die stryd teen misdaad wen!