|

Minister moet inligting oor transformasie in sport openbaar

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit het vandag ʼn oorwinning in die Pretoriase hooggereghof gehad nadat daar beveel is dat Fikile Mbalula, sportminister, en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie inligting oor rassekwotas openbaar moet maak en ook die instansies se regskostes moet betaal.

Dit volg ná dié organisasies vandag ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) in die hooggeregshof geargumenteer het dat die ministerie van sport inligting rakende transformasieteikens moet oorhandig.

AfriForum en Solidariteit het in Mei verlede jaar ’n omvattende veldtog teen rassekwotas in sport én in die werkplek van stapel gestuur het nadat Mbalula in April 2016 gesê het dat die land se vier hoofsportfederasies – Atletiek Suid-Afrika (ASA), die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika (KSA) en Netbal Suid-Afrika (NSA) – nie voortaan as gasheer mag optree vir enige groot internasionale sporttoernooi in Suid-Afrika totdat hulle nie hul ooreengekome transformasieteikens bereik het nie.

Volgens Mbalula het al vier sportfederasies wel in 2016 op rasseteikens met hom ooreengekom, maar die aantal swart spelers wat vir die Springbokspan gekies moet word voordat die minister sy seën vir die aanbieding van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2023 sal gee, is vertroulike inligting.

Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het die ministerie gisteraand in aanloop tot vandag se hofsitting versoekte inligting rakende sy transformasieteikens aangestuur terwyl die hof vandag beveel het dat Fikile Mbalula, sportminister, en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie die regskostes van AfriForum en Solidariteit moet betaal.

AfriForum en Solidariteit sê dat die sportministerie en verskeie sportfederasies se transformasieteikens vir sport in Suid-Afrika eintlik net die daarstelling van ’n onwettige kwotastelsel is.

“Hoewel ons nog besig is om al die dokumentasie te verwerk, is dit reeds duidelik dat die manier waarop transformasieteikens toegepas word, inderwaarheid net op ’n kwotastelsel neerkom – iets wat uitdruklik deur die Grondwet, die Wet op Billike Indiensneming asook verskeie internasionale sportkonvensies verbied word. Ons sal dus sonder twyfel verdere hofaksie bring om die gebruik van kwotas in sport stop te sit,” sê Kruger.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, druis die toepassing van sportkwotas in Suid-Afrika teen verskeie internasionale ooreenkomste in wat Suid-Afrika onderteken en bekragtig het. “Dis ironies dat die regerende party nóú kwotas toepas terwyl hy in 1970 aan internasionale liggame bepleit het dat sportlui op meriete beoordeel moet word. Ons staan dus steeds by die standpunt dat meriete die enigste faktor in die samestelling van sportspanne moet wees.”

Volgens Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, moet meriete die enigste kriterium by die kies van sportspanne wees. “Ons gaan hierdie aksie gebruik om internasionale steun te werf en om bewustheid rakende die absurde implementering van sportkwotas in Suid-Afrika te skep.”

AfriForum en Solidariteit het reeds in 2015 ’n skaduverslag by die Verenigde Nasies (VN) ingedien waarin die regering se rassebenadering tot regstellende aksie uitgewys is. Die verslag is later aangevul om ook rassekwotas in sport te takel. Na afloop van die partye se besoek aan die VN in Julie 2016, is die saak van regstellende aksie in Suid-Afrika op die CERD-komitee se agenda geplaas en is dit ook in die proses om aandag te geniet ingevolge die komitee se diplomatieke proses.

AfriForum het ook gister ’n brief aan Mbalula gerig waarin die onmiddellike afdanking van Esethu Hasane, media-en-kommunikasiebestuurder by die departement van sport en ontspanning, geëis word. Dít volg ná ’n rassistiese opmerking wat Hasane op sy Facebook-blad en sy Twitter-rekening geplaas het.

Volgens Kriel het Hasane se opmerking weereens bevestig dat anti-wit rassisme by die departement van sport en ontspanning aan die orde van die dag is.

Hy sê voorts dat AfriForum vereis dat Mbalula en sy departement Hasane se opmerking in die openbaar moet veroordeel en hulself sonder verwyl van hom moet distansieer.

“Net gister (Maandag) het Mbalula (met reg) sy afkeer op sy Twitter-rekening uitgespreek – met skermgrepe – teen ’n eiendomsagent wat ’n meenthuis as ‘SLEGS wit mense, asseblief’ adverteer. Ons kan nie wag om te sien of Hasane se opmerking ook sy onmiddellike aandag sal geniet nie,” sê Kriel.

 

Soortgelyke plasings