|

“Mini-Nklandla” het Joubertina-inwoners boos

’n Onooglike mini-Nkandla.

Dit is hoe inwoners van Joubertina in die Oos-Kaap na die sogenaamde Rotskuns-Museum by die ingang van die dorp verwys.

Daar is sowat agt jaar gelede met die museum-projek begin wat werksgeleenthede in dié Oos-Kaapse dorpie in die Langkloof moes skep en spesifiek die erfenis en kultuur van die Khoisan-gemeenskap moes uitbeeld en bewaar.

Volgens Forum Nuus se inligting is die projek destyds deur die provinsiale departement van omgewingsake van stapel gestuur en sowat R4,6 miljoen is daarvoor bewillig. Die projek sou ’n museum sowel as ’n rotskunsroete insluit.

Dr. Johan Binneman, ’n argeoloog wat langer as 30 jaar by die Albany-museum in Grahamstad gewerk het, is destyds by die projek betrek en genader om ’n sakeplan op te stel.

Volgens Binneman het ’n maatskappy genaamd Aims die kontrak vir die projek gekry en sy sakeplan is feitlik net so gebruik. Dit was egter uit die staanspoor chaoties en ongeorganiseerd en boonop is die Khoisan-gemeenskap nooit behoorlik by die konsultasieproses betrek nie.

Binneman sê die “museum” is niks anders as ’n onooglike struktuur nie waaraan opgehou bou is toe die geld begin opraak het. Net mooi niks gebeur op die oomblik in die sement-geboutjie nie en gedeeltes van die dak is al gestroop.

Kobus Reichert, die Gamtkwa Khoisan-raad se erfenis-verteenwoordiger, is net so ongelukkig oor die toedrag van sake.

“Dit is niks anders as ’n ‘mini-Nkandla’ nie waar kontrakteurs, waarskynlik met die regte verbintenisse, deur die staat aangestel is, werk van uiters swak gehalte gedoen is en die gemeenskap geen voordeel hieruit getrek het nie.”

Volgens Reichert is die Khoisan-gemeenskap nooit behoorlik gekonsulteer nie en het daar van die planne dat hulle by die projek betrek sou word en opgelei sou word om dit te bedryf net mooi niks gekom nie.

“Daar was van die begin af konflik en toe ons uiteindelik deel van die advieskomitee word, is ons insette in die wind geslaan. Ons het van die begin af gesê die projek kan nie volhoubaar wees nie en dat daar nie met bouwerk begin kan word alvorens die nodig wetgewing rondom erfenis in ag geneem is nie.”

Reichert sê hulle het die besteding ook bevraagteken en het geen bevredigende antwoorde gekry nadat meer as R900 000 uitgegee is sonder dat ’n baksteen gelê is nie.

Volgens Reichert weet niemand waar die projek nou trek, hoekom dit nooit voltooi is of wie aanspreeklik vir die gemors gehou moet word nie.

Selfs die DA kan nie antwoorde kry nie.

Elza van Lingen, DA-LP, het nog geen antwoorde gekry op skriftelike vrae wat sy oor die projek aan die minister van kuns en kultuur in die parlement gerig het nie.

Sy wou weet wat die begroting vir die projek is, hoeveel vordering daarmee gemaak is, aan wie die geld betaal is, of enigiemand van die plaaslike gemeenskap ooit in diens geneem is én wanneer dit eendag voltooi gaan wees.

Die enigste reaksie was dat dié projek nie onder die nasionale departement van kuns en kultuur of die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur val nie.

Marnus van Staden, AfriForum se provinsiale verteenwoordiger in die Oos-Kaap, meen dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers se geld so verkwis word. Hy het met ’n onafhanklike boukontrakteur gepraat wat meen hy sou die museum vir minder as R1 miljoen kon oprig.

AfriForum en sy Langkloof-takverteenwoordigers spartel ook geruime tyd om antwoorde by die Koukamma-munisipaliteit te kry aangesien die gebou op munisipale grond is.

’n Brief is aan Sabelo Nkhuhlu, munisipale bestuurder gestuur, waarin gevra word wat die situasie rondom die onvoltooide projek is.

Volgens AfriForum moet die munisipaliteit die nasionale wet op bouregulasies en boustandaarde nakom.

AfriForum het die munisipaliteit ingelig dat hy regstappe sal moet doen as hy aanhou versuim om op navrae te reageer en antwoorde te gee.

 

 

 

Soortgelyke plasings