|

Miljoene vir Zuma-beeld kan eerder armes se lewens verbeter

Die Noordwes-regering se planne om ’n standbeeld teen R6 miljoen vir pres. Jacob Zuma by Groot Marico op te rig, kry die wind uit talle oorde van voor.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, en ’n groot ondersteuner van Zuma, meen dié beeld is nodig om maatskaplike kohesie te bevorder en vir die opteken van die geskiedenis.

Opposisiepartye het vandeesweek gesê Mahumapelo het baie om te verduidelik aangesien die mense van Noordwes, waarvan die meeste werkloos is, op geen manier by die oprigting van ’n standbeeld vir ’n korrupte president sal baat nie.

Hoewel die Noordwes-regering glo reeds ’n tender in ’n Sondagkoerant geadverteer het, het AfriForum gister ’n PAIA-aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) aan Mahumapelo se kantoor gestuur waarin dringende inligting versoek word.

Inligting van die notules van vergaderings van die provinsiale wetgewer, kennisgewings in die media en alle relevante dokumentasie oor die begroting en die koste vir dié projek word versoek.

Hendrik Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, meen die oprigting van ’n Zuma-standbeeld is totaal onvanpas gegewe die hoë vlakke van korrupsie en armoede in die land.

’n Standbeeld van pres. Zuma kan nie opgerig word nie omdat hy onder meer:

  • 783 klagtes van bedrog teen hom het;
  • in ’n Nkandla-skandaal betrek is waar miljoene rand onregmatig aan sy huis bestee is; en
  • verantwoordelik is vir ’n enorme hoë werkloosheidsyfer wat tot haglike omstandighede en armoede bydra.

Oosthuizen sê verder dat die R6 miljoen wat die provinsie op hierdie ontoepaslike standbeeld wil spandeer veel beter aangewend kan word. Die geld kan byvoorbeeld gebruik word om:

  • meer as 100 000 sakke teer vir die herstel van slaggate aan te koop;
  • sowat 36 nuwe polisiebeamptes in Noordwes aan te stel om landelike veiligheid te bevorder waar onder meer plaasmoorde hoogty vier;
  • infrastruktuur op te gradeer en in stand te hou;
  • sowat 1 200 ongeskoolde werkers te betaal; of
  • ’n totaal van 31 nuwe hoërskoolonderwysers vir ’n jaar te betaal.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het vroeër gesê die inwoners van Gopane waar die beeld opgerig gaan word, leef in haglike omstandighede omdat water- en rioleringvoorsiening heeltemal in duie gestort het.

Nog ’n DA-raadslid in die Zeerust-omgewing, Cornél Dreyer, het na die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit verwys wat ’n lang geskiedenis van swak dienslewering en vrugtelose besteding het. Meer as R30 miljoen is aan ’n put bestee wat slegs afval in die Groot Marico-rivier stort.

Michal Groenewald, VF-onderleier in Noordwes, het op sy beurt gesê die oprigting van ’n standbeeld is onnodige vermorsing. Hy het Mahumapelo uitgedaag om eerder ANC-geld te gebruik om die beeld op te rig en dan te kyk of die provinsie se ANC-lede dit sal toelaat.

Hy het gesê standbeelde word gewoonlik vir mense opgerig wat reeds dood is en ’n positiewe bydra tot ’n land se vooruitgang gelewer het. “Zuma is geen aanwins vir Suid-Afrika nie.”

Terwyl die Noordwes-regering geen verduideliking gegee het waarom die beeld juis by Groot Marico opgerig moet word nie, lê die antwoord waarskynlik in die geskiedenis.

Die verbanning van die ANC in 1960 het tot die stigting van uMkhonto we Ziswe (MK), die gewapende vleuel van die ANC, gelei. Zuma het deelgeneem aan sabotasie-aksies van MK in Natal en het beplan om Suid-Afrika vir militêre opleiding oorsee te verlaat. MK het in 1963 beplan om 45 nuwe rekrute vir opleiding te stuur waarvan Zuma een was. Die plan was dat hulle die sogenaamde “Vryheidstrein” na Zambië sou neem. Die veiligheidspolisie het van die plan te hore gekom en ’n operasie beplan om hulle in hegtenis te neem. In Junie 1963 , toe die groep, waarvan Zuma deel was, na Botswana op pad was, is hulle in Groot Marico naby Zeerust gearresteer. Zuma is 90 dae alleen by die polisiestasie in Hercules aangehou.

Soortgelyke plasings