--> -->
Spyskaart +

Middelmatige Vrye Weekblad is ’n slaappil

April 25, 2019 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Daar was baie bespiegeling oor wat die “nuwe” Vrye Weekblad sou inhou vir die Afrikaanse joernalistiek. Ek het self ook op Solidariteit se webblad ’n ontleding daarvan gedoen.

Ek was positief, maar meestal negatief, oor hierdie verwikkeling en het my redes daarvoor verstrek. Gaan lees gerus self wat my mening daaroor is. Hulle het beloof om minder op misdaad en glanspersoonlikhede te fokus en dieper te dink. Ek is oopkop genoeg om hulle ’n kans te gee.

Ander mense was baie meer positief – uiteraard oom Max du Preez as die nuwe redakteur en sy juigkommando.

In die aanvanklike verklaring in Februarie het oom Max verklaar dat hulle nou met mening terug is. Hy het dwarsklappe na die huidige Afrikaanse media uitgedeel en hulle van middelmatigheid en die toegee aan regse geraas beskuldig. Geen heilige koeie sal gespaar word nie en etniese mobilisering sal geteiken word. Die ondersoekende ghoeroe Jacques Pauw word tewens weer betrek. Mens sou verskoon kon word om te dink: Hier kom ’n ding (al stem mens nie altyd saam met die redaksionele beleid van so ’n “webkoerant” nie)!

Ek kan ’n lang ontleding skryf oor hoekom ek nie dink die hele spulletjie gaan lank hou nie. Baie daarvan was ou probleme wat nou weer blyk kop uit te steek: hul blatante leuens en swak posisionering, hul flou leserskap en sukkelende finansiële posisie, hul eenogigheid en antagonisme wanneer dit by Afrikaans en Afrikaners kom, ensovoorts.

Die “nuwe” Vrye Weekblad is nou so paar weke aan die gang en het sover geensins daarin misluk om teleur te stel nie. Die beste inhoud wat tot dusver daarin geproduseer is, is dat Pauw vasgestel het dat Mark Minnie, mede-outeur van Die Seuns van Bird Island, voor sy selfdood erken het dat hy geen konkrete getuienis het dat enige van die drie ministers enige slagoffer seksueel aangerand het nie.

Enigeen met ’n aks logika sou buitendien kon sien dat dit die geval is. Een anonieme getuie wat bewerings teen dooie mense maak is ’n twyfelagtige manier om jou boek se premis te probeer verdedig. Daar is meer gate in daardie boek se aantygings as die voosgeskiete geboue in Sirië. Dus, Pauw se bevestiging is maar mosterd na die maal.

Verder het Piet Croucamp ons ook al vertel dat Julius Malema presidensiële ambisies koester. So asof Malema dit nie al self gesê het nie. Soos hulle op Engels sê: Whoop-de-do!

Natuurlik kan mens net sekere afleidings maak van wat in Vrye Weekblad se stories aangaan. Hul Facebook-inskrywings en drie paragrawe op die webwerf is al wat mens het om mee te werk as jy nie ingeteken is nie. Dit is grotendeels genoeg – soos met die Pauw-storie. Daar word allerweë gekla oor hoe moeilik hulle dit vir voornemende intekenare maak om in te teken, maar dan weer lyk dit ook nie of te veel mense werklik wil inteken nie – iets wat uiteindelik nou hul Achillieshiel gaan wees en ook met hul eerste poging ’n fatale swakplek was. Die Vrye Weekblad is dus glad nie “vry” nie, maar kom met ’n maandelikse prys!

Daarbenewens laat oom Max (wat steeds knus in die 80’s en apartheid lewe sonder om aan te beweeg), soos verwag, nie ’n kans verbygaan om selektiewe woede toe te pas nie. Hy kla enersyds in ’n artikel dat die hedendaagse instellings soos die howe en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie vir Malema vasvat nie. Vreemd genoeg word daar dan ’n swart-en-wit foto van wat lyk soos ’n jong Barend Strydom (die Wit Wolf wat etlike swart mense in die laat 80’s in Pretoria afgemaai het) in ’n hof vol wit mense – als uit die apartheidsera – saam met die storie op hul Facebook-bad gebruik. Mens kan net jou kop skud.

Voorts word daar gekla dat die Ghoemas en Afrikaans is Groot te wit is, en ’n (waarskynlik anonieme) leser verklaar dat hy of sy – daai verdomde betaalmuur! – weier om hulself ’n Afrikaner te noem. “Die mense wat hulself trotse Afrikaners noem, is gewoonlik die ou Nasionaliste en nasionaliste,” lui die brief terwyl dit gelyktydig Vrye Weekblad se beuel blaas en hul middelmatigheid tot uitnemendheid probeer verhef. Ek sal nie verbaas wees as oom Max self daardie brief (en die ander ook) geskryf het nie, en dit het darem so bietjie van ’n debat ontketen, maar sulke vervaardigde woede bring jou nie ver nie.

Prasa-treine word in ’n artikel ook as lewensgevaarlik beskryf en die Wikileaks-stigter, Julian Assange, se slordigheid word blootgelê. Vrye Weekblad is regtig besig om grense te verskuif met hul verslaggewing …

Talle van die mense wat deur oom Max by hierdie projek betrek is, het ook maar vraagtekens oor hulle en kom almal uit een denkskool. Hulle is geensins die toonbeeld van ’n “oop gesprek” (waarvoor die publikasie hom juis beywer) nie.

Jeremy Veary is ’n generaal in die Wes-Kaapse polisie, oud-lid van uMKhonto weSizwe en uitgesproke ANC-man. Hy is ’n omstrede figuur teen wie vele bewerings al gemaak is. Hy is onlangs deur Sunday Times van marteling en ontvoering beskuldig en is ook al aan Kaapse bendes verbind en word van korrupsie verdink. Hy is egter glo ook ’n digter en outeur. Ek weet egter nie watter een van hierdie vele vaardighede of hoedanighede vir hom ’n skryfrol by Vrye Weekblad losgeslaan het nie. Dit bly als net bewerings, maar hoekom sal jy in elk geval so iemand vir jou publikasie wil laat skryf?

Nog ’n berugte figuur is die militante ateïs Johan Pienaar. Hy is Vrye Weekblad se “kitskenner” oor Brexit en ontbloot juis met sy skryfsels hoe min hy daarvan weet. Ewenwel, die laaste wat ons van hom gehoor het, was toe Rapport verlede jaar berig het dat hy ’n vriendin uit ’n kwartmiljoen rand geswendel het. Hy het sy sosialemedia-rekeninge toegemaak en wou nie kommentaar lewer nie. Croucamp is by die Universiteit van Johannesburg afgedank nadat hy ’n kollega in haar kantoor toegesluit het en die sleutels in ’n restaurant se badkamer in Melville gelos het. Hy het gedink sy sou dit daar kon kry.

Ek hoop van harte die Naspers-joernaliste (wat vir die sogenaamde “middelmatige” Afrikaanse publikasies werk of gewerk het) en ander vryskutte wat vir oom Max se publikasie skryf, het nie hul ander inkomste en geleenthede vir hierdie nonsens prysgegee het nie. Hierdie skete kan dalk als net groeipyne wees, maar ek vermoed sterk dit is nie. Al wat ek weet, is dat ek nie ’n sent vir hierdie doodvervelige slaappil sal betaal nie. Min mense sal, en daarom kan ons verwag dat die doodsklok eerder vroeër as later vir Vrye Weekblad gaan lui wanneer die uitgewer, Tiso Blackstar (wat self erge finansiële probleme beleef), ophou om oom Max se terughunkering, klakkelose aanvalle en Afrikaner-haat te subsidieer.