Meer skole is die oplossing


AfriForum is bekommerd oor die groot hoeveelheid leerlinge wat nie plek in skole het in 2017 nie. Die feit dat talle provinsies nie genoeg skole het om leerlinge te akkommodeer nie, dui net weereens daarop dat die onderwysdepartement onbekwaam is en deurlopend nalaat om die bevolkingsgroei en -verskuiwings in die land te monitor en skole volgens behoefte aan te bou.
Sekere provinsies het dubbel soveel leerlinge as wat die beskikbare skole kapasiteit voor het, wat dui op die omvang van die probleem. Dit dui egter ook op groeiende spasie vir privaat onderriginstansies.

“Talle ouers het byvoorbeeld in Gauteng probleme met die aanlynregistrasieplatvorm ervaar wat ook daartoe bygedra het dat baie leerlinge nie by skole kon registreer nie. Leerlinge wat nog nie in skole geplaas is nie sal tot ’n maand moet wag om terugvoer van die departement te kry oor of hulle moontlik iewers ’n plek in ’n skool gaan kry,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.
“Die departement van basiese onderwys speel politieke speletjies met skole se taalbeleide, name en embleme wat verander moet word en groot koste-implikasies inhou, terwyl daar ’n meer dringende nood aan nog skole is – veral skole wat vir leerlinge onderrig in hul moedertaal kan gee,” meen Bloem verder.

AfriForum is ook bekommerd dat die situasie uitgebuit gaan word en druk op Afrikaanse enkelmediumskole geplaas gaan word om meertalige onderrig aan te bied. AfriForum het reeds klagtes van Afrikaanse skole ontvang wat onder hierdie druk verkeer en is bereid om skole met raad in dié verband by te staan.
Besoek gerus AfriForum se eenstoponderrigblad vir ondersteuning met betrekking tot enige onderwysverwante probleme of navrae wat jy deur die loop van die jaar kan ervaar.

Soortgelyke plasings