|

Meer as duisend trotseer reënweer tydens optog teen plaasmoorde

“As ons nie almal nou gaan saamstaan nie, weet ek nie waar ons voedsel eendag vandaan gaan kom nie.”

Só sê dr. Duncan Prinsloo, ‘n veearts en voormalige boer van Bronkhorstpruit, wat vandag met applous gegroet is tydens ’n gesamentlike optog teen plaasmoorde wat deur AfriForum, die vakbond Solidariteit, die landbou-unie TLU SA, asook opposisiepartye naamlik die DA, die VF Plus en Cope georganiseer is.

Prinsloo is in sy onderlyf verlam nadat hy en sy vrou, Letitia, slagoffers van ’n wrede plaasaanval in 2008 was. ’n Koeël het hom in sy rug getref en Letitia is tydens die aanval doodgeskiet. Hulle was 34 jaar getroud.

Die burgerlike organisasies en opposisiepartye het vandag hande gevat en saam met honderde betogers opgeruk na die Uniegebou in Pretoria om ’n memorandum aan die president te oorhandig waarin onder meer die prioritisering van plaasmoorde geëis word.

Ondersteuners het die gietende reënweer trotseer en van die Pretoriase Kunsmuseum met plakkate en Stopdiemoorde-vlaggies geloop om teen plaasmoorde te betoog.

Kobie Schroeder-Swarts, ’n inwoner van Pretoria, het tydens die optog aan Forum Nuus gesê dat elke landsburger op ’n manier deel is van misdaadstatistiek en veral geraak word deur plaasmoordstatistiek. “Mense staar hulleself blind teen die moorde, maar dit gaan oor soveel meer. Dit gaan oor voedselsekuriteit en die ekonomie, asook watter hulpbronne en nalatenskap daar vir ons kinders eendag gaan wees.”

Haar boodskap aan die regering is om hande met sy landsburgers te vat en saam te staan teen plaasmoorde. “Ons moenie vorentoe beweeg maar steeds agtertoe kyk nie. Ons moet vorentoe beweeg én vorentoe kyk om die land ’n beter plek vir almal te maak.”

Lukas Swart, ‘n Suid-Afrikaner wat in 2000 Ierland toe geëmigreer het, kom gereeld Suid-Afrika om sake soos dié teen plaasmoorde te ondersteun. Hy vertel dat hy ook self deel was van ’n SwartMaandag-optog in Dublin. “Ons is al lank betrokke by die plaasmoorde-veldtog en glo almal moet ook self betrokke raak om ’n verskil te maak. As ons vir die regering alleen wag vir ’n verskil, gaan ons nog baie jare wag.”

Corné Fondse, ’n boer van die Bronkhorstpruit-omgewing, sê hy het gekom om sy ondersteuning te bied vir boere, asook hul geliefdes wat agterbly en geraak word deur plaasmoorde. Fondse, wat self as kind in ’n plaasaanval was, sê die regering moet begin optree en iets doen om plaasmoorde hok te slaan.

Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, adv. Anton Alberts van die VF Plus en Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het sterk boodskappe vir die regering gehad wat sy plig versaak om alle landsburgers veilig te hou.

Lekota het ook harde woorde vir “jong mannetjies” soos Julius Malema, leier van die EFF, gehad wat geweld aanhits en gereeld uitsprake oor grondonteiening sonder vergoeding maak. “Hulle weet nie waarvan hulle praat nie. Ons het ’n grondwet wat dit nie sal toelaat nie en almal van ons is tot die beginsels van die grondwet verbind.”

Lekota het gesê die deelnemers aan die optog is nie vandag hier om gunste te vra. “Ons vra vir ons regte.”

Alberts het gesê Suid-Afrikaners bevind hulle in ’n oorlogsituasie. “Plaasmoorde is ook haatmisdade. Dis ’n skande dat Suid-Afrika gevaarliker as Irak is. Die regering het ’n verpligting om elke landsburger te beskerm.”

Steyn sê Suid-Afrika is ’n nasie in trauma. Daar is 52 moorde per dag. Daar sal vandag, net soos gister en môre, 52 mense vermoor word. “Ons mag nooit toelaat dat dit as normaal gesien word nie. Ons mag nie hieroor stilbly nie.”

Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê die land is getraumatiseerd deur misdaad. TLU SA sal nie stilbly nie en voortgaan om van die regering te eis om sy plig teenoor landsburgers na te kom.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die optog gesê dat plaasmoorde ’n nasionale krisis is en as sodanig hanteer moet word. Roets het bygevoeg dat AfriForum nie glo dat boere en plaaswerkers se lewens belangriker as dié van ander landsburgers is nie, maar dat hierdie gemeenskap disproporsioneel geteiken word en dat die aanvalle ’n buitengewone impak op die land het.

“Die uniekheid van plaasmoorde regverdig ’n gefokusde teenstrategie,” meen hy.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat hy vanoggend nêrens anders sou wou wees as saam met ondersteuners van die optog nie. “Niemand van ons sê as ons vandag stap dat geweld in die land gaan ophou nie, ons is nie naïef nie. Maar dit is belangrik om te wys dat ons sterk voel oor die saak. Julle wat hier is wys dat julle nie geïntimideer of stilgemaak sal word nie. Julle is ysters.”

Die memorandum is in ontvangs geneem deur Eddie Ntsoani, ’n verteenwoordiger van Fikile Mbalula, minister van polisie. Die optog het vreedsaam en sonder enige voorvalle plaasgevind.

Lees die memorandum hier: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/Organisasies-staan-saam-teen-plaasmoorde.pdf

Soortgelyke plasings