|

Meer as 430 woon AfriForum nasionale takkongres by.

AfriForum se nasionale takkongres skop môre by Klein Kariba in Warmbad af waar belangrike besluite oor minderhede se toekoms geneem sal word.

Meer as 430 AfriForum-takbestuurslede, afgevaardigdes van sowat 150 takke en buurtwagte van regoor die land woon dit by.

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sal terugvoer gee oor die vordering wat die organisasie op plaaslike vlak gemaak het. Suksesverhale van verbeterde dienslewering, ingryp-aksies op verskillende vlakke om die lewensomstandighede van mense te verbeter en planne vir die pad vorentoe sal onder die loep kom.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die kongres is ’n belangrike stap vorentoe om gemeenskappe te mobiliseer en te bemagtig om selfstandig na hul gemeenskappe se belange om te sien. “Dit is bevrydend om nie jou toekoms afhanklik van die regerende party se ideologies gedrewe besluitnemingsprosesse te maak nie, maar eerder self aksies te doen om ’n beter toekoms te vestig.”

Volgens Kriel is die groeiende staatsverval ’n gegewe, maar ons hoef nie terug te sit en slagoffers van die geskiedenis te word nie.

“Ons kan self help skryf aan die nuwe geskiedenis waar gemeenskapselfstandigheid ’n sentrale rol speel. Die sterk groei van AfriForum se takstrukture en die ondersteuning wat AfriForum landwyd kry, is aanduidend daarvan dat ons mense gereed is om self ’n verskil te maak.”

AfriForum het tans 55 buurtwagte, 120 takstrukture, 450 gemeenskapsleiers, 1 800 buurtwagpatrollies, 30 000 taklede en 145 000 lede.

Jansen van Rensburg het gesê regeringsafhanklikheid moet plek maak vir gemeenskapsafhanklikheid. “Van Springbok tot Pongola. Van Louis Trichardt tot Kaapstad. In elke provinsie in die land is AfriForum se mense besig met selfdoen-aksies. Of dit nou swak munisipale dienste, korrupte amptenare, besoedelde omgewings, grondgrype of misdaad is. Daar waar ’n AfriForum-tak is, kom Afrikaners bymekaar om self probleme op te los.”

Die kongres duur tot Sondag.

Soortgelyke plasings