|

Meer as 200 bale voer vir boere in die Vrystaat geskenk

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandeesweek 222 geskenkte voerbale aan boere in die Vrystaat, wat verlede jaar onder erge droogte gebuk gegaan het, afgelewer. Dit is moontlik gemaak deur skenkings van die publiek sowel as donasies van Telwiedré Voere.

Dié skenkings volg nadat die burgerregte-organisasie verlede jaar ’n veldtog van stapel gestuur het wat daarop gemik is om hulp aan boere te verleen. Boere wat tans hulp kry, is vroeër genader om aan te dui wat hul grootste behoeftes is.

Verlede jaar het die burgerregte-organisasie in totaal 300 ton voer aan boere in nood geskenk.

Volgens Henk Maree, nasionale veldtogkoördineerder van AfriForum, is droogtehulp vanjaar steeds belangrik omdat talle boere nog die gevolge van die afgelope paar jaar se droogte ervaar, ondanks die welkome reëns die afgelope maande.

Die publiek kan betrokke raak by die veldtog deur hul naam na 38312 te SMS om R10 tot AfriForum se droogtefonds by te dra.

 

Soortgelyke plasings