Spyskaart +

Meer as 500 betrokke by massa-patrollie in Warmbad

Julie 13, 2015 deur Alet Rademeyer

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Meer as 500 mense het Saterdag aan ’n massa-patrollie in Warmbad deelgeneem om sigbare polisiëring in die gebied te verskerp.
Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê die doel van die patrollie is ook om beter samewerking tussen buurtwagte, die polisie en plaaswagte te bewerkstellig.

Tydens die patrollie was daar 20 arrestasies wat onder meer met die onwettige verkoop van alkohol verband gehou het.
Die aksie was een van verskeie projekte waarby die studente wat tans met internskappe by AfriForum besig is, betrokke was. Hulle het blootstelling gekry oor hoe patrollies kan werk en kommunikasie op grondvlak en tussen rolspelers meer doeltreffend gebruik kan word. Radio-maste is opgesit en radiostelsels is tydens die geleentheid getoets.

Cameron het gesê jongmense moet vroeg reeds by buurtwagte en patrollies betrokke raak en die nodige opleiding kry sodat hulle kan weet hoe daar in situasies opgetree moet word.
Dit is ook noodsaaklik dat alle rolspelers deeglik bewus moet wees van wat hul te doen staan tydens misdaadvoorvalle. “Dit is onder meer van kardinale belang dat misdaadtonele bewaar moet word ten einde die kanse op vervolging van oortreders te verbeter,” het Cameron gesê.

In ’n ander voorval verlede week het een van AfriForum se veiligheidsnetwerke in Vogelstruispan (Warmbad) in samewerking met die polisie in Limpopo 4 wildstropers vasgetrek. Sowat 15 dooie vlakvarke is by hulle gevind wat hulle van plan was om te verkoop.


Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder, het gesê dié arrestasies is ’n goeie voorbeeld van sukses wat bereik kan word waar gemeenskappe doeltreffende veiligheidsnetwerke het.
In die naweek het AfriForum se Vanderbijlpark- veiligheidsnetwerk ’n huisbreker op heterdaad betrap terwyl hy en 3 makkers ’n inwoner se eiendom betree en ingebreek het.