|

Meer as 100 memorandums teen vlaag plaasmoorde en -aanvalle by polisiestasies regoor die land ingedien

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Meer as 100 memorandums waarin geëis word dat plaasmoorde deur die regering geprioritiseer word, is vandag by verskeie polisiestasies deur plaaslike AfriForum-takke landwyd ingedien.

Sowat 35 memorandums is óók by Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland ingedien.

AfriForum en Solidariteit, sowel as die landbou-unie TLU SA, die DA, die VF Plus en Cope het hul name by dié memorandum gevoeg.

Die organisasies het hulle ook almal daartoe verbind om deel te neem aan die massa-optog teen plaasmoorde wat vir Saterdag, 25 November, beplan is.

Daar sal om 10:00 vanaf die Pretoria Kunsmuseum na die Uniegebou gestap word om dié memorandum aan die staatspresident te oorhandig.

Dié burgerlike organisasie en opposisiepartye het vandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie in Centurion standpunt teen plaasmoorde ingeneem en ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om dringend in te gryp om dié krisis te prioritiseer.

“Plaasmoorde is ’n nasionale krisis en dit moet as sodanig hanteer word. Die uniekheid van plaasmoorde regverdig ’n gefokusde teenstrategie, “ meen Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings