Spyskaart +

Max die Judasbok maak Afrikaners sondebokke

September 28, 2017 deur Flip Buys

Die rubriekskrywer Max du Preez se voortdurende geskel op Solidariteit en AfriForum raak nou te dik vir ʼn daalder. Hy aanvaar self geen verantwoordelikheid vir iets nie, maar hy beledig, beswadder en besmeer ons wat iets aan hierdie droewe land se probleme probeer doen.

Ons verwelkom dit as joernaliste kommentaar lewer op ons doen en late, al verskil hulle van ons. Dis tog hul werk om te skryf oor wat gebeur en om te sorg dat die publiek aan ʼn wye spektrum van menings blootgestel word. Wanneer hy egter wit mense se geregverdigde bekommernisse neerhalend as rassisme afmaak, of ʼn smerige swart streep deur Afrikaners se hele bestaansgeskiedenis trek, kort Max ʼn raps.

Dit is juis vanweë sy baldadige aandadigheid aan die probleme wat die land nou teister dat Max se alwetende “kommintaar” oor Solidariteit en AfriForum my soms krap. Max het trouens soos ʼn wafferse Judasbok niksvermoedende mense na die Zuma-slagpale help lei. ʼn Judasbok is die voorbok wat by die slagpale die skape en bokke in ʼn drukgang by die slaghok inlok, terwyl hyself dan blitsig by ʼn sydeur uitglip vir ‘n ekstra happie voer.

Max is ʼn veteraanjoernalis wat dekades lank blind was vir enige ANC-foute. Terselfdertyd het hy met ʼn vergrootglas, verkyker én mikroskoop na werklike en vermeende Afrikanerfoute gesoek, dit opgeblaas, en dit dan wyd en syd uitgebasuin. Die magtige dreuning van sy hol byklanke moes gereeld vergoed vir die gebrek aan feite en ewewigtige oordeel.

Rigting van verandering

Hy het in die tagtigerjare begin skryf toe die land hom in ʼn doodloopstraat bevind het en groot veranderings móés kom. Die vraag was in watter rigting daardie veranderings moes wees. Terwyl talle kenners gewaarsku het dat gewaak moet word teen die blote vervanging van minderheidsoorheersing met meerderheidsoorheersing, het Max babbelend die ANC aan bewind help praat en skryf. ʼn Ondemokratiese bevrydingsbeweging wat in marxisme ontvang en gebore is, is met ʼn paar pennestrepe omgetower in reënboog-demokrate wat oornag in staat sou wees om ʼn moderne ekonomie te regeer: Stinkerige sosialistiese sienings is geurig bewierook en keurig beskryf as mensliewende menseregte; geharde kommuniste is as sagmoedige reuse aangeprys; en ʼn aanspraak op minderheidsregte is ergerlik verdoem ten gunste van die heilige alleenreg van ANC-meerderheidsregte.

Wie dapper genoeg was om te waarsku dat die ANC by Kodesa net toegewings maak om die mag te kry en ná bewindsoorname die mag gaan gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te druk, is met dromme drukkersink platgeskiet. Die ANC se ware rasnasionalistiese kleure is agter ʼn reënboog-rookskerm verbloem sodat niemand kon sien die nuwe keisers nael kaal nie.

Wie nie deur Max se pennefee betower was en saam in ʼn politieke beswyming verval het nie, is doodgeswyg of op die brandstapel van die openbare mening gebraai. Max het ywerig skrywerig meegewerk aan die uitbreek van ʼn aansteeklike bygelowige goedgelowigheid, wat almal verketter het wat gewaarsku het dat die stelsel tot ʼn Zuma kan lei. As teenmiddel het Max gewigtig luidrugtig voorspel dat die droom vir ewig sou duur en vir twyfelaars ʼn sterk dosis volstruispolitiek voorgeskryf. Wit mense is gerus gesus deur niebindende versekerings, en die een na die ander ANC-leier en -beleid is aan die publiek gesmous as heiliger as die pous.

Voorsienbare gevolge

Toe die son van die werklikheid egter begin skyn en die reënboog verdwyn, word die onbedoelde – maar voorsienbare – gevolge van die stelsel se ingeboude swakhede duidelik sigbaar. Die belangrikste daarvan was die wydverspreide staatsverval as gevolg van die ANC se transfornazi-rasseformules wat op die hele land afgedruk is. Die tweede wat daaraan gelykstaan, is die buitengewone konsentrasie van grondwetlike aanstellingsmagte wat in die hande van die president berus en wat vroeër of later tot staatskaping sou lei.

Ja, natuurlik is daar wit rassiste wat hardvogtig vasklou aan uitgediende sienings, en Solidariteit en AfriForum spreek hulself gereeld daarteen uit. Wanneer ons egter die dubbele standaarde uitwys soos dat enige onbeduidende voorval waarby ʼn wit mens betrokke is meer vuur trek as al 305 plaasaanvalle van 2017 saam, swyg Max dawerend of val hy ons venynig aan. Onaanvaarbare kommentaar van maglose wit mense op sosiale media word verdoemend veroordeel, maar die rassisme afkomstig van swart rassiste in magsposisies word blindelings verdedig.

Max preek gereeld gewigtig dat wit mense selfmoord moet pleeg om te keer dat hulle nie vermoor word nie. Sy verwaande “boereboelie”-vooroordele verkondig hy vanaf die onaantasbare magsposisies wat hy op die grootste Afrikaanse radiostasie en op die land se grootste mediaplatforms beklee. Max probeer die ooglopende stelselprobleme wegverdedig en wegverduidelik en kritiseer net die oppervlakkige gevolge daarvan soos byvoorbeeld die Zuma-regering se misdrywe. Nee Max, jy kla nou net oor die noodwendige gevolge van die beleid wat jy dekades lank luidkeels gepropageer het.

Demokratiese rewolusie

Wit mense is nie kwaad omdat hulle rassiste is nie, maar oor wat in die land aangaan. Hulle hunker nie terug na die verlede onder P.W. Botha nie, maar sien nie uit na die toekoms onder ʼn Jacob- of ʼn Nkosazana Dlamini-Zuma nie. Die groeiende gaping tussen al die keurige glansbrosjures oor die nuwe bedeling en wat in die praktyk van daardie bedeling geword het, laat talle ontnugter en mislei voel. Hulle voel om die bos gelei dat hulle vir demokrasie gestem het, maar steeds ʼn rewolusie gekry het.

Afrikaners wil saamwerk om van die land vir almal ʼn beter plek te maak, maar talle voel dat daar nie meer plek vir hulle in die land is nie. Jong wit mense, wat nie deur apartheid bevoordeel is nie, wil nie bly verskoning vra aan jong swart mense wat nie daardeur benadeel is nie. Hoekom word hulle verantwoordelik gehou vir dinge wat gebeur het voordat hulle gebore is, maar ander word nie aanspreeklik gehou vir dinge wat nou gebeur nie?

Wit mense het gestem om van die vorige rassebestel ontslae te raak, maar is moeg daarvan om rassiste genoem te word as hulle kla oor die nuwe rassebestel. Hulle wou hê dat swart mense volle burgerregte moes hê, maar wou nie in die proses self soos tweedeklasburgers behandel word nie. Hulle het gestem vir die afskaffing van rassediskriminasie, maar het nou self die teiken van onbillike rassediskriminasie geword. Hulle het gestaan vir gelyke geleenthede vir almal, maar beleef nou die afdwinging van gelyke uitkomste ooreenkomstig die bevolkingsamestelling. Gelykheid het ongesiens “verteenwoordigendheid” geword en vryheid word die slagoffer van hierdie gelykmaking. Afrikaners het begrip gehad vir die nodigheid van regstellende aksie, maar verwerp die misbruik daarvan om hul instellings te verengels en om dit oor of af te vat.

Regte word regs

Wit mense wat vir grondwetlike regte vir almal gestem het, moet nou hoor dat die beskerming van hul regte nou skielik “regs” geword het. Hulle het minderheidsbeheer vir ʼn demokratiese regstaat verruil, maar beleef nou hoe meerderheidsregering meerderheidsoorheersing begin word. Afrikaners het gevoel dat Afrikaans nie ander tale se sprekers mag uitsluit nie, maar ervaar nou hoedat Afrikaans en Afrikaanssprekendes self uitgesluit word. Hulle het aanvaar dat swart mense se geskiedenis sy regmatige plek moet kry, maar nou word hul eie geskiedenis gekriminaliseer.

Terug na Max se Don Quixote-aanvalle op ons – die werklike rede wat daaragter lê, is dat hy nou self paniekerig raak omdat alles wat hy bepleit het, dreig om voor sy oë te misluk. Hy kan nou nie anders as om die Zuma-ANC vreeslik venynig aan te val nie, maar om te keer dat die krokodil wat hy self gevoer het hom nou opvreet, “balanseer” hy sy kritiek op Zuma met aanvalle op ons. Nee wat Max, jy moes van beter geweet het en nie soos die Judasbok almal verlok het en nou Afrikaners, Solidariteit en AfriForum die sondebok maak nie.

Hou eerder op om slimpraatjies te maak en begin self iets doen.