--> -->
Spyskaart +

Matriekuitslae van 2018 laat huidige en toekomstige generasies in die steek

Januarie 3, 2019 deur Hesti Steenkamp

AfriForum wens almal wat die matriekeksamen van 2018 geslaag het, asook die toegewyde onderwysers wat hulle getrou bygestaan het, van harte met dié prestasie geluk. Terselfdertyd word met groot kommer kennis geneem van 2018 se amptelike slaagsyfer van 78,2%, omdat dit nie die volledige prentjie van die land se onderwystoestand skets nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, noem dat ’n verslag van die departement van basiese onderwys aandui dat 1 141 731 leerders in 2007 in graad een in openbare skole was en 29 592 in onafhanklike skole. Volgens die statistiek wat die minister van basiese onderwys vandag bekendgemaak het, het ’n totaal van slegs 790 843 leerders in 2018 vir die matriekeksamen ingeskryf.  Dit beteken dat meer as 30% van 2007 se groep nie eens die matriekeksamen gehaal het nie, wat nog van geslaag het.

“Wanneer matriekuitslae jaarliks gevier word, fokus die departement op die prestasies van enkele individue en skole. Die jongmense wat egter uit die stelsel verdwyn, word sonder vaardighede gelaat waarmee hulle ’n betekenisvolle rol in die uiters kompeterende arbeidsmark kan speel. Selfs die minister se verwysings na leerders wat bygestaan is om matriek te herhaal, stel nie gerus nie – dit is ontstellend om te dink dat jongmense só lank in die skoolstelsel was voor hulle betekenisvolle hulp ontvang het,” sê Bailey.

“Verder skep slaag- en toelatingsvereistes wat deurentyd verlaag word – soos wat pas weer die geval met toelatingsvereistes vir tersiêre studie was – die indruk dat selfs die groep wat slaag, toenemend minder het om aan werkgewers te bied,” voeg Bailey by.

Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum se 2017-2018 Globale Mededingendheidsindeks, beklee Suid-Afrika die 114de plek onder 137 lande wat die gehalte van hoër onderwys aanbetref en die 116de plek betreffende die gehalte van primêre onderwys. Die land se swak ekonomiese groeikoers en onaanvaarbaar hoë amptelike werkloosheidsyfer (27,5% in die derde kwartaal van 2018) kan nie verbeter as skoolverlaters wat die arbeidsmark betree, só gebrekkig met kennis toegerus word nie.

Bailey beklemtoon dat die oplossing onder meer te vinde is in ’n groter aanbod van moedertaalonderrig, streng optrede teen ideologies gedrewe polariserende uitsprake en optrede (soos dié van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi), meer doeltreffende kurrikulumopsies, tydige aflewering van handboeke, die vasvat van onderwysvakbonde wat onderrig lamlê, die skep van meer opleidingsgeleenthede vir onderwysers, asook kragdadige aksie teen ’n gebrek aan dissipline onder leerders en onderwyspersoneel.

“Die toekoms berus op die gehalte van die land se onderwysstelsel – nie ’n kosmetiese herverdeling van eiendom of gimnastiek met slaagsyfers nie,” sluit Bailey af.