|

Maties SR-verkiesing: AfriForum Jeug bring dringende hofaansoek

AfriForum Jeug beplan om vandeesweek ʼn dringende hofaansoek teen die Universiteit van Stellenbosch (US) te bring nadat die studenteraadsverkiesing vroeër uitgestel is toe die studentehof sewe AfriForum Jeug-kandidate se kandidatuur opgeskort het.

Die opskorting het gevolg nadat studente wat na bewering by Open Stellenbosch (OS) en die ANC Jeugliga betrokke is, ’n klag teen AfriForum Jeug ingedien het. AfriForum is van mening dat sy kandidate onregmatig daarvan beskuldig is dat hulle verskeie SR-verkiesingsregulasies oortree het.

Die burgerregte-organisasie se jeugvleuel het na die studente-appèlliggaam van die US geappelleer teen hul kandidate se opskorting, maar die komitee het geweier om ’n beslissing oor die aangeleentheid te maak. Die appèlkomitee het gemeen dat die hoofverkiesingsbeampte ook ’n verslag oor die aangeleentheid behoort op te stel. Die hoofverkiesingsbeampte het in hierdie verslag ook die US se studentehof van onbehoorlike inmenging in die verkiesingsproses beskuldig.

Ondanks dié bevinding het die studentehof voortgegaan met hul ongrondwetlike prosesse om AfriForum-kandidate se kandidatuur op te skort. Verlede week Donderdag is die AfriForum-kandidate weer voor die studentehof hof gedaag. Dit het daarop gedui dat die hoofverkiesingsbeampte se verslag bespreek sou word. Minute later is dié uitnodiging teruggetrek en was dit duidelik dat dit ’n “ herverhoor” sou wees.

Die AfriForum-kandidate is in ’n onhoudbare situasie geplaas wat hulle nou dwing om die hooggeregshof te nader.

Volgens Bernard Pieters, VSR-presidentskandidaat, is die bewerings wat teen die kandidate gemaak is vals en glo hy dat die verkiesingsproses in die wiele gery word weens ʼn kwaadwilligheid teenoor AfriForum Jeug.

Hy verduidelik dat die OS-ondersteuners onder meer ’n probleem het met die feit dat AfriForum Jeug in Julie vanjaar ’n beurskompetisie ter bevordering van Afrikaans aangebied het asook met die jeugvleuel se bemarking op die kampus. Hy meen dat slegs AfriForum Jeug se kandidate geteiken word.

“Hoewel OS kandidate aangekla het wat met AfriForum Jeug geassosieer word, het hulle egter geen klagtes teen die DA-geassosieerde kandidaat ingedien nadat die DA T-hemde op die US-kampusse uitgedeel het nie.”

Hy is ook van mening dat AfriForum Jeug se kandidate nie tydens die studentehof se sitting kans gegun is om hul saak te stel nie.

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê indien die OS hul sin kry, sal Matie-studente nie vanjaar vir ’n studenteraad kan stem nie.

“Daar is tans 14 kandidate wat staan vir nege VSR-vakatures. Indien die uitsluiting van die kandidate nie opgehef sou word nie, sal die VSR outomaties uit die oorblywende OS-gesinde kandidate saamgestel word.”

Hy meen dus dat die byna 27 000 Maties-studente van hul demokratiese regte ontneem sal word indien AfriForum Jeug se kandidate nie aan die verkiesing deelneem nie. Hy sê voorts dat die US nie ʼn poging aanwend om studente te motiveer om aan die VSR-verkiesing deel te neem nie.

“Ons het ’n verantwoordelikheid om studente te motiveer om hul toekoms in hul eie hande te neem en nie passief te wees nie. Daar bestaan geen grondwetlike beperking op enige organisasie om dit te doen nie. Bemarkingsveldtogte is eie aan ’n demokratiese verkiesingsproses. Dit is tog hoe studente ingelig en oorreed word om te gaan stem. Om hierteen gekant te wees, is om teen die wese van ’n oop demokratiese stelsel te wees,” meen Jansen van Rensburg.

Soortgelyke plasings