|

Maties-regsaksie nie einde van taalstryd

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug en die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandag in die hooggeregshof in Kaapstad ooreengekom dat Afrikaans as onderrigmedium gelyke status sal geniet soos verlede jaar tydens ’n raadsvergadering besluit is.

Die regsoptrede is deel van die vyfpuntplan van AfriForum se #RedAfrikaans-veldtog wat daarop gemik is om Afrikaans as onderrigtaal te behou en te bevorder by tersiêre instellings.AfriForum Jeug is tevrede dat US skriftelik onderneem het dat stappe geneem sal word om te verseker dat alle fakulteite die universiteit se taalbeleid en –plan sal toepas.

AfriForum Jeug het tot die stryd toegetree nadat die ingenieurs- en die regsfakulteite in Januarie besluit het om Engels as primêre onderrigtaal te gebruik. Die Jeug het versoek dat dié besluit nie uitgevoer word nie. Die US het egter geweier waarna die Jeug ’n dringende hofaansoek gebring het om die fakulteite te dwing om die taalbeleid en –spesifikasies toe te pas soos vervat is in die jaarboek van 2016.

“Die Universiteit het nou skriftelik onderneem om dit te doen en die doel met die hofaansoek is bereik,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se kampus- koördineerder by Maties gesê.

Volgens Pieters is dit nie net ’n groot oorwinning vir die studente van Stellenbosch nie, maar ook vir die hele Afrikaanse gemeenskap. “Die hofaansoek was dringend omdat studente wat hulle studies tot dusver in Afrikaans gedoen het, en kern aspekte in Afrikaans geleer het, binnekort toetse gaan begin skryf.”

Hy het voorts gesê dat die universiteit van Maandag af weer Afrikaans as onderrigtaal sal gebruik soos deur die US-raad besluit is. “Benewens die feit dat die universiteit nie hul grondwetlike pligte nakom nie, is die kernprobleem dat hulle kontrak gebreek het met studente.”

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê enige regsaksie soos die is belangrik omdat dit universiteitsbesture op hulle tone hou. “Dit is vir hulle baie maklik om te dink dat hulle volgens die meerderheid studente optree en besluite maak, maar dan kan hulle dit nie werklik in die praktyk bewys nie.”

Die regsaksie bevestig dat studente en die gemeenskap waarin die universiteit is, ook ’n sê het. “Dit gee vir studente meer selfvertroue om op te staan vir die taal van hul keuse.”

Bailey meen die universiteit wil voorgee dat daar nie ’n behoefte is aan Afrikaans nie en dat individue nie alleen wil opstaan teen die “groter meerderheid nie”. Sy meen dit is belangrik om studente in te lig dat uitsprake van die bestuur nie altyd goed nagevors of reg is nie. “Dit is dus vir ons ook ’n manier om vir studente te verseker dat hulle staat kan maak op AfriForum om hulle belange te beskerm.”

Sy het voorts gesê dit is belangrik dat studente en dosente nie die saak as afgehandel moet beskou nie. “Slegs die aanhoudende aanvraag na Afrikaans sal sy voortbestaan in onderrig verseker.”

Bailey het voorts gesê dat sy dink daar moet met internasionale kenners oor taal, opvoedkunde en verskeie regsaspekte gekonsulteer word om te bepaal wat ’n verantwoordelike taalbeleid vir ’n gemeenskap en universiteit sal behels.

Sy meen ’n universiteit se taalbeleid het administratiewe en akademiese gevolge omdat dit ook werksgeleenthede binne ’n gemeenskap skep. “Die taal bemagtig die studente, dosente en ander werknemers, dit is baie wyer as net akademie.”

Bailey het gesê soortgelyke hofaksies kan verwag word en AfriForum sal voortgaan om studente en dosente te ondersteun wat meen daar word teen hulle gediskrimineer.

Verskeie kampusse het in 2015 onder leiding van studente-organisasies soos OpenStellenbosch, ReformPuk en UpRising betogings gehad om teen Afrikaans in opstand te kom.

Hein Gonzales, AfriForum Jeug se woordvoerder, sê dat dit nodig is vir personeel, studente en alumni wat pro-Afrikaans is, om die institusionele besluitnemingstrukture van die US te gebruik om Afrikaans se plek op die kampus in die lang termyn te verseker. “Dit kan slegs gedoen word indien personeel, studente en alumni aktief deelneem aan die proses wat gevolg word om hierdie strukture saam te stel.”

 

 

Soortgelyke plasings