--> -->
Spyskaart +

Marina sien en hoor

Mei 5, 2014 deur Leandri Streit

Inwoners voer massa-aksiepatrollie uit

Dit is alombekend dat daar fout is by die Hammanskraal-polisie (SAPD) wat veronderstel is om die inwoners van ons omgewing te beskerm.

Die feite, asook die mites, oor die optrede van die plaaslike polisie is legio. Watter daarvan waar is en watter straatlegendes (urban myths) kan ‘n mens vir weke besig hou.  Indien slegs ‘n klein persentasie van die stories die waarheid is,  besef die inwoners dat hulle op hulself aangewese is vir beveiliging.

Wanneer die polisie uiteindelik (na vele klagtes) onwettige immigrante in hegtenis neem en saamvat  “tronk toe” en dieselfde onwettige immigrante twee dae daarna fluit-fluit terug is waar hulle weggevat is,  begin ‘n mens dink oor moontlike foute wat by die proses kon ingesluip het.  Wanneer die polisie twee maande later (toevallig) op die plot kom waar die onwettiges nesgeskop het onder  beskerming van die ploteienaar en die “beskermlinge” hardloop  weg en soek angstig skuiling, kry  ‘n mens die spesmaas dat daar werklik foute  met  die proses is.  Wanneer die SAPD-beamptes ‘n aanmerking oor die weghardlopery maak en na vier maande nóg niks daaraan gedoen het nie,  is ‘n mens seker dat daar definitief  fout met die proses is.

Indien die volgende (straatlegende of waarheid?)  nie  sulke ernsige  gevolge kan hê nie,  sou dit skreeusnaaks kon wees:  Daar vind ‘n inbraak met die gevolglike diefstal op ‘n plot plaas en die bewoners ontbied die polisie.  Di het verskeie oproepe nodig voordat hulle na ‘n lang tyd opdaag en met groot erns na die klaer se storie luister.  Nadat die beampte sy kop geskud en die normale    “eish!”  gesê het,  het hy mooi  verskoning gemaak en gesê dat hy jammer is,  maar  dat dit té laat in die maand is om enige nuwe sake aan te teken!  Het  jy  woorde?  Miskien kan Leon Schuster dié voorval met vrug in ‘n fliek  gebruik.

Die gemeenskapslede  patrolleer  reeds  vir  ‘n geruime  tyd snags hul gebiede se strate self en glo dat hulle  sodoende misdaad bekamp.  Hulle hou ook van tyd tot tyd massapatrolleeraksies.  Die massapatrolleeraksie van 20 Maart was egter  die eerste waarin al die plaaslike gebiede gelyk gepatrolleer het.  In elke gebied  is ‘n Gesamentlike Operasionele Sentrum  (GOS) opgestel  waar die gebiede met mekaar, asook met hul lede,  per radio in verbinding was.

Die berekeninge vir dié aksie,  wat van 22:00 op 20Maart tot 06:00 op 21 Maart in twee skofte geduur het,  is as volg:

46 voertuie het die strate gepatrolleer.

113 inwoners  van die gebied was in die voertuie en

15 reaksielede by die GOS-sentra  –  dus 128 gemeenskapslede.

Meer as 1 520 kilometer is gery (almal het nie hul  kilometerlesings verstrek nie) @ R3 per kilometer was die koste  meer as R4 560 vir die gemeenskapslede.

392.7 mens-ure (man- én vrou-ure) is in die nag opgeoffer @ vergoeding van R100 per uur (!) kom  te staan op R39 270.

Die totale (konserwatief berekende)  koste van die aksie vir die gemeenskap was R43 830! Dít,  terwyl  die lede van die gemeenskap hoë belastings betaal.  Party van dié belastingkatagorieë was ‘n klompie jare gelede ongekend by die mensdom .

Die hoë belastings is veronderstel om vir ons polisiebeskerming te betaal.  Wíl die SAP nie  die  burgers en hul eiendom beskerm  nie,  of kán  hulle nie?

“Ons betaal vir vyfsterbeskerming,  soos helikopters en gewapende wagte by ons huise, maar ons kry kinders  met  ketties wat werk  wanneer hulle lus het.   Is dit regverdig?” het  ‘n inwoner,  wat uit vrees vir viktimisasie deur die polisie nie geїdentifiseer wil wees  nie,  opgemerk.