|

Malema wil “wittes se vrede versteur”

Julius Malema, omstrede leier van die EFF, het vandag in die landdroshof in Newcastle, KwaZulu-Natal, verskyn op klagtes van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste, nadat hy op 26 Junie vanjaar mense in Mdadeni aangehits het om grond te beset.

Malema se prokureur, Tumi Mokwena, het gevra dat die saak vir ses maande uitgestel moet word. Luidens mediaberigte het Mokwena gesê hulle gaan ‘n aansoek by die hooggeregshof indien om die Wet op Oproerige Byeenkomste ongrondwetlik te verklaar. Indien Malema se regspan kan bewys dat hulle dié aansoek by die hooggeregshof ingedien het, sal die saak tot 5 Mei uitgestel word.

Malema het op sy beurt in die hof gesê die EFF gaan witmense se vrede versteur. “Witmense is mos van die hemel. As jy aan ‘n witmens raak, sal jy tronk toe gaan. Swartmense is onderworpe aan witmense en dien hulle net.”

Malema het gesê dat hy bereid is om tronk toe te gaan vir grond. Volgens hom is die land in die hande van koloniale meesters.

Hy word ook deur die burgerregte-organisasie AfriForum van presies dieselfde oortreding aangekla vir ’n voorval nadat hy sy ondersteuners in Desember 2014 by ’n EFF-kongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond landwyd te beset.

Dié uitlatings het Malema uiteindelik duur te staan gekom en hy is gedagvaar om ook op 14 November in die streekhof in Bloemfontein te verskyn. Nantes Kelder, hoof van ondersoeke by AfriForum, het die besluit om Malema te vervolg verwelkom.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag op die ANN7-nuuskanaal oor die hofsaak gepraat.

Volgens Roets is daar verskeie kwessies, soos die belangrikheid van voedselsekuriteit, wat in ag geneem moet wanneer grondhervorming ter sprake is.

“Volgens die departement van omgewingsake verloor meer as 90% van plase wat oorgedra word weens grondhervorming hul produktiwiteit. Die EFF kan nie konsekwent die konsep van apartheid teenstaan, maar grondgryping gebaseer op ras ondersteun nie,” meen hy.

Soortgelyke plasings