Malema-sekuriteitsbaas aangegee by privaatsekuriteitsbeheerliggaam


AfriForum het ’n formele klag by die Reguleringsgesag vir die Privaat Sekuriteitsbedryf (PSiRA) teen Adriaan Snyman ingedien. Snyman is na bewering die eienaar van ’n privaat sekuriteitsmaatskappy wat dienste lewer aan Julius Malema, leier van die EFF. In die klag word gevra dat Snyman se optrede ondersoek word met betrekking tot die beweerde onwettige besit van ’n vermeende vuurwapen en ammunisie, asook die feit dat dié vuurwapen aan Malema oorhandig is om die afgelope naweek tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap af te vuur.
Dié klagte hou verband met die saak wat op 1 Augustus by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion teen sowel Malema as Snyman aanhangig gemaak is.
AfriForum vra ook dat die SAPD ondersoek na Snyman se optrede moet doen om uit te klaar of dit op ’n oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (wet no. 60 van 2000) neerkom.

“Snyman is ’n kontroversiële persoon wat na bewering op verskeie geleenthede in die verlede met die gereg gebots het. Indien Snyman inderdaad die eienaar van ʼn sekuriteitsmaatskappy is, behoort hy met nóg meer omsigtigheid as ’n gewone vuurwapeneienaar met die hantering van vuurwapens om te gaan. Dit is AfriForum se mening dat sowel PSiRA as die SAPD Snyman se gedrag moet ondersoek,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings