|

Malema-saak tot Junie 2017 uitgestel

Die burgerregte-organisasie AfriForum se saak teen Julius Malema, omstrede leier van die EFF, ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste is vandag in die landdroshof in Bloemfontein tot 5 Junie 2017 uitgestel.

Dit volg nadat Malema sy ondersteuners in Desember 2014 by ’n EFF-kongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond landwyd te beset.

Volgens Nantes Kelder, hoof van ondersoeke by AfriForum, wil Malema ʼn aansoek by die hooggeregshof indien om die Wet op Oproerige Byeenkomste ongrondwetlik te verklaar.

Malema het ook vroeër die maand in die landdroshof in Newcastle, KwaZulu-Natal, op dieselfde klagtes verskyn nadat hy op 26 Junie vanjaar mense in Mdadeni aangehits het om grond te beset.

Sy prokureur, Tumi Mokwena, het tydens dié verhoor in Newcastle ook gevra dat die saak vir ses maande uitgestel moet word sodat sy regspan die aansoek om die Wet op Oproerige Byeenkomste ongrondwetlik te verklaar by die hooggeregshof kan indien.

Malema se motorbestuurder is ook vroeg vanoggend in Ventersburg in die Vrystaat in hegtenis geneem omdat hy na bewering teen 187 km/h gejaag het. Malema moes toe self verder hof toe bestuur.

Soortgelyke plasings