|

NVG bevestig Malema se vervolging danksy volgehoue druk deur AfriForum

AfriForum het vanmiddag van vertroulike bronne bevestiging ontvang dat Julius Malema wel deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg gaan word en binnekort in die hof (waarskynlik die Mdantsane-landdroshof in die Oos-Kaap) moet verskyn. Dít volg nadat AfriForum klagtes teen Malema aanhangig gemaak het ná hy tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 skote afgevuur het met ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer gelyk het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het vroeër vanjaar aangedui dat AfriForum die hof sal nader ten einde die NVG te dwing om ’n beslissing oor Malema se vervolging te maak. Malema staar talle klagtes uit verskeie handelinge in die gesig en AfriForum het reeds op verskeie geleenthede sy bekommernis uitgespreek dat Malema se oortredinge anders hanteer word as dié van gewone landsburgers.

Die NVG het eers ná AfriForum se betrokkenheid besluit om aandag aan Malema se vervolging te skenk.

“Die NVG is in hierdie saak die geleentheid gegun om aan die publiek te bewys dat hulle misdade vervolg – ongeag die oortreder se identiteit en sonder enige vrees en/of voorkeur. AfriForum sal die saak deurlopend moniteer om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheidsafdeling.

Soortgelyke plasings