Malema geweereskapades skiet sy sekuriteitsbaas in die voet


AfriForum verwelkom die SAPD se konfiskering van 12 aanvalsgewere wat op Adriaan Snyman, Julius Malema se sekuriteitsbaas, se perseel gevind is. Die burgerregte-organisasie het op 1 Augustus 2018 klagtes teen beide Malema en Snyman ingedien ná Malema tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap skote in lug afgevuur het met wat soos ’n aanvalsgeweer lyk.

“In AfriForum se verklaring aan die polisie noem ons die name van die getuies wat Malema se beweerde afvuur van die vuurwapen aanskou het. Dít sluit in: Dali Mpofu, ’n senior advokaat betrokke by die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se woordvoerder. AfriForum hoop dat die SAPD eersdaags die getuieverklarings van alle moontlike betrokkenes by dié aangeleentheid sal neem en dat diegene as getuies geroep kan word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“Indien die SAPD die saak op hierdie wyse benader, sal dit die Nasionale Vervolgingsgesag die geleentheid gee om die verklarings en ander bewysstukke behoorlik na te gaan en die aangeleentheid na die strafhof te verwys,” sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling.
“AfriForum ondersteun die SAPD en ander liggame in die ondersoek teen Malema en Snyman, en is verheug oor die feit dat die SAPD tans streng teen hulle optree. AfriForum sal die verloop van die ondersoek bly moniteer,” sluit Cameron af.

AfriForum het ook reeds ’n formele klag by die Reguleringsgesag vir die Privaat Sekuriteitsbedryf (PSiRA) teen Adriaan Snyman ingedien. Snyman is die eienaar van ’n privaat sekuriteitsmaatskappy wat dienste aan Julius Malema lewer. In dié klag word versoek dat Snyman se optrede met betrekking tot die beweerde onwettige besit van ’n vermeende vuurwapen en ammunisie ondersoek word, asook die feit dat dié vuurwapen aan Malema oorhandig is om af te vuur.

Soortgelyke plasings