|

Malema en Ndlozi se aanrandingsaak uitgestel

Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het ná volgehoue druk deur AfriForum vandag in die Randburgse landdroshof verskyn vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel. Die saak is egter tot 23 en 24 Junie 2020 uitgestel omdat Malema en Ndlozi se regsverteenwoordiger aangevoer het die regspan het nog tyd nodig om voor te berei.

Dít volg nadat AfriForum in Julie 2019 aangekondig het dat die organisasie die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het na bewering in April 2018 ’n senior polisieman in uniform aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisieaandag geniet nie totdat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het.

“Dit is jammer dat die hofverrigtinge uitgestel moes word omdat Malema en Ndlozi se regspan nie gereed was om hul verdediging te behartig nie. Hulle kon dit wel vandag regkry om die regsproses te vertraag, maar Malema en Ndlozi sal nie op die lange duur geregtigheid vryspring nie. AfriForum sal toesien dat hulle hul dag in die hof kry,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings