|

Malema en Ndlozi se aanrandingsaak uitgestel tot Augustus

Ná volgehoue druk deur AfriForum word Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, uiteindelik in die Randburgse Landdroshof vervolg vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel. Die saak is egter vandag weens die COVID-19-pandemie tot 31 Augustus 2020 uitgestel.

Dit volg nadat AfriForum in Oktober 2019 aangekondig het dat dié organisasie die hof met ’n mandamus-aansoek gaan nader om die NVG te verplig om ’n besluit te neem oor die vervolging van Malema in hierdie en twee ander hangende sake teen hom.

Malema en Ndlozi het na bewering ’n senior polisieman in uniform in April 2018 aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisie-aandag geniet totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het nie.

Soortgelyke plasings