|

Malema en Ndlozi in hof vir aanranding ná volgehoue druk deur AfriForum

Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het vandag in die Randburgse landdroshof op aanklagte van aanranding verskyn ná volgehoue druk deur AfriForum. Malema en Ndlozi word vervolg vir die beweerde aanranding van ’n SAPD-kolonel. Die verhoordatum is vasgestel vir 10 Maart 2020. Die verrigtinge sal in hof 14 om 8:30 plaasvind.

Dít volg nadat AfriForum in Julie vanjaar aangekondig het dat hulle beoog om die hof te nader met ’n mandamus-aansoek om die NVG te verplig om ’n besluit te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie saak. Die NVG het in September 2019 aangekondig dat hulle Malema wel vir die beweerde aanranding gaan vervolg.

Malema en Ndlozi het na bewering in April 2018 ’n senior polisieman in uniform aangerand tydens ’n voorval wat op kringtelevisiekameras vasgevang is. Die senior polisieman het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak, maar dit het geen polisie-aandag geniet totdat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid in Januarie 2019 navraag oor die ondersoek gedoen het nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die vervolging van Malema op dié aanklagte nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal wat glo in die beginsel van gelykheid voor die reg.

“Niemand is verhewe bo die reg nie en AfriForum verwelkom die feit dat Malema uiteindelik sy dag in die hof gekry het. Malema het gedink hy is onaantasbaar, maar te danke aan die druk wat AfriForum op die NVG uitgeoefen het, gaan hy uiteindelik verantwoording moet doen.”

Malema verskyn ook ná volgehoue druk deur AfriForum op die NVG op 27 November vanjaar in die hof in Mdantsane nadat hy skote by die EFF se vyfjaarfeesvieringe in die Oos-Kaap afgevuur het.

Soortgelyke plasings