Malema en EFF het vanoggend R126 703,59 aan AfriForum oorbetaal vir regskostes


Die burgerregte-organisasie AfriForum het bekendgemaak dat Julius Malema en die EFF vanoggend ’n bedrag van R126 703,59 aan AfriForum oorbetaal het. Malema en die EFF het AfriForum dié bedrag geskuld nadat regter Baqwa van die Noord-Gautengse hoë hof op 12 September 2017 ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF in AfriForum se guns gemaak het.
Die kostebevel spruit uit ’n hofgeding wat AfriForum teen Malema en die EFF aanhangig gemaak het om ’n interdik te bekom om hulle te verbied om mense aan te hits om grond onwettig te gryp of te betree.  Die Noord-Gautengse hoë hof het op 7 Maart 2017 in AfriForum se guns beslis en die interdik met koste toegestaan. Malema en die EFF het daarna ’n tersydestellingsaansoek teen die interdik gebring, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes egter die saak uitstel, nadat Malema en die EFF se hoofde van betoog laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik. Tydens die volgende hofverskyning in Februarie vanjaar, het Malema en die EFF se regsverteenwoordigers nie opgedaag nie en die saak is in AfriForum se guns beslis, met ’n verdere kostebevel teen Malema en die EFF.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die betaling deur Malema en die EFF aan AfriForum verwelkom en gesê dit stuur ‘n duidelike boodskap dat niemand bo die reg verhewe is nie, ook nie Malema en die EFF nie.

“AfriForum gaan hierdie geld gebruik om onteiening sonder vergoeding en grondgrype in die howe te beveg,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel is dit egter nie die einde van die pad nie, aangesien Malema en die EFF ‘n verdere bedrag van R211 005.09 verskuldig is vir verdere kostebevele in dieselfde saak. Die EFF het egter volgens Kriel aangedui dat hulle die bedrag in die hof wil betwis.

“AfriForum se regspan is gereed om die EFF se hofaansoek teen te staan en toe te sien dat die EFF hulself verdere kostebevele op die hals haal. Kriel het daarop gewys dat die balju reeds die afgelope Vrydag ter uitvoering van ‘n lasbrief wat AfriForum teen die EFF en Malema bekom het, beslag gelê het op meubels en rekenaars in die EFF se hoofkantoor, maar dat die verwydering en opveiling daarvan tydelik teruggehou word hangende die EFF se regsaksie.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum ook voortvloeiend uit die interdik, ’n saak van minagting van die hof teen Malema aanhangig gemaak het. Die saak sal op môre (14 November 2018) om 10:00 in die Noord-Gautengse hoë hof begin. Volgens Kriel is hy vol vertroue dat AfriForum ’n sterk saak het om Malema ook met dié regsaksie tot verantwoording te roep.

Soortgelyke plasings