Maand van Selfstandigheid: Moot-tak dra by tot groener toekoms


AfriForum se Moot-tak in Pretoria het die afgelope maand ongeveer 15 bome geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se Maand van Selfstandigheid.

“Bome is ’n erfenis. Dit is ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand in staat sal wees om te oorleef nie. Bome verskaf suurstof, skaduwee en voedsel,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng-Noord.
“Ons het daarop gefokus om die vaderlandswilg (Combretum erythrophyllum) te plant. AfriForum moedig gemeenskappe aan om inheemse bome wat in hulle omgewing sal aard, te plant,” sê Nikette Laing, sekretaris van AfriForum se Moot-tak.

Dié tak se volgende aksie behels die skoonmaak van ’n spruit in Wonderboom-Suid op 21 November 2017.
AfriForum moedig die gemeenskap aan om by dié veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms: SMS “Groen” na 45341 (R1) óf stuur ’n e-pos na lambert@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings