|

Maak kinders vir ’n toekoms in SA groot

Ouers het ’n groot verantwoordelikheid om ’n toekoms vir hul kinders in Suid-Afrika te skep en hulle nie met die gedagte groot te maak dat hulle so gou moontlik uit die land moet kom nie.

Dit was deel van Alana Bailey, hoof van kultuursake, se boodskap vir beraadgangers wat vandag AfriForum se streekberaad in Centurion bywoon.

Sy het ’n beroep op ouers gedoen om hul kinders as leiers groot te maak wat hul verantwoordelikhede kan uitleef. “Geen kind is nie ’n leier, elkeen het potensiaal. Ons moet ons kinders leer dat daar verwagtinge is waaraan hulle moet voldoen.”

Sy het ook gewys op hoe belangrik dit is om kinders eties en met goeie Christelike waardes groot te maak terwyl hulle nog in die huis is.

Bailey het gewys op die talle aktiwiteite, aksies en veldtogte wat AfriForum vir kinders en die jeug aanbied soos die teenboelieveldtog, Dink of Sink-debatskompetisie en Besigheidsbytjies.

Sy het ook gewys op AfriForum se fokus op moedertaalonderrig en steun aan skole en ouers wanneer hulle probleme rondom skole ervaar. Sy het die belangrikheid van ouerbetrokkenheid en ondersteuning van skole se beheerliggame beklemtoon.

Bailey het ook verwys na die plig wat ouers het om te verseker dat hul kinders gesonde selftrots het. “Ons glo nie ons kultuur is meerderwaardig nie, maar ons moet selfvertroue by ons kinders ontwikkel sowat hulle ook trots op hul taal, kultuur en geskiedenis sal wees.”

Morne Mostert, bestuurder van plaaslikeregering, het op sy beurt gepraat oor selfbestuur op munisipale vlak en wat inwoners moet en kan doen om hul regte op te eis.

Mostert meen die veg-en-bou-benadering is ook op plaaslike regeringvlak van toepassing waar inwoners dikwels in stryd met munisipaliteite is om te verseker dat dienste gelewer word, maar waar hulle ook innoverend optree om self dienste te lewer soos vullisverwydering of die voorsiening van water aan inwoners.

Volgens Mostert is dit baie belangrik dat takke toenemend op selfbestuur moet fokus veral in die lig van die feit dat slegs 7% van munisipaliteite goed funksioneer.

Soortgelyke plasings