|

Maak jou stem dik om M.T. Steyn-standbeeld te behou

AfriForum en AfriForum Jeug moedig die publiek aan om deel te neem aan ’n openbare deelnameproses oor die toekoms van die M.T. Steyn-standbeeld op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Dié openbare deelnameproses skop vandag af en vorm deel van ’n groter hersieningsproses om te besluit of die standbeeld geskuif moet word. Dié proses vorm glo deel van die UV se Institusionele Transformasieplan (IT) wat uit 12 spanne bestaan wat elk fokus op ’n spesifieke aspek met die doel om die omvang van transformasie by die UV uit te brei en te versnel.

Die universiteit het Sondag aangekondig het dat ’n openbare uitstalling tydens die Vrystaatse Kunstefees gehou sal word om te verseker dat die hersieningsproses en die standbeeld self die onderwerp van ingeligte, intellektuele bespreking sal wees soos voorgeskryf deur die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.

’n Vierkantige spieëlstruktuur is Vrydag aan die voorkant van die struktuur opgerig. Aan elk van die vier kante is nege vrae wat oor die standbeeld beantwoord moet word asook ’n webtuiste waarna mense verwys word om insette te lewer.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het Vrydag gesê die struktuur word opgerig as deel van die openbare deelnameproses oor die standbeeld.

Die vrae wat op die struktuur is:

  1. Wie was pres. Marthinus Theunis Steyn?
  2. Hoekom staan die standbeeld hier?
  3. Wat is die verbintenis tussen die standbeeld en die UV?
  4. Is die standbeeld steeds relevant in die huidige sosio-politieke konteks?
  5. Wat is die uitdagings met die prominensie van die beeld in die huidige sosio-politieke transformasie-milieu?
  6. Moet die standbeeld bly waar dit is en indien nie watter ander plek sal die geskikste vir die M.T. Steyn-erfenisnarratief wees?
  7. Wat was die rol van pres. M.T. Steyn in die Suid-Afrikaanse-oorlog?
  8. Hoekom is jou mening van belang?
  9. Hoe laat deelname in die konsulterende proses jou voel?

Die UV het ook belanghebbendes in April die geleentheid gegee om geskrewe voorstelle te lewer oor die toekoms van die standbeeld. AfriForum Jeug se Kovsies-tak en AfriForum het voorleggings ingedien wat die bedekking en verwydering van die standbeeld op die kampus teenstaan.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies, swig Suid-Afrikaanse owerhede tans te maklik voor populiste se eise dat standbeelde verwyder moet word omdat hulle persepsies daaroor huldig, sonder dat hulle werklik moeite doen om die geskiedenis van die individue of die rol van standbeelde in die samelewing na behore na te vors.

“Geskiedenis en erfenishulpbronne soos standbeelde kan nie na willekeur deur elke generasie verander word om by een groep se subjektiewe mening op ’n spesifieke tydstip of magsagenda in te pas nie. Dit moet met oordeel bewaar word sodat komende geslagte ook hulle objektiewe interpretasie daarby kan voeg en van die soet en suur van die verlede kan kennis neem.”

Marthinus Theunis Steyn was die sesde en laaste Staatspresident van die Oranje-Vrystaat vanaf 1896 tot 1902. Hy is as ’n vryheidsvegter teen Britse Imperialisme bestempel. Steyn is op 28 November 1916 oorlede terwyl hy ’n vroueverenigingvergadering in Bloemfontein toegespreek het. Hy is by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Hy was egter nie ’n stigterslid van die Nasionale Party nie.

Teken AfriForum Jeug se petisie om Steyn voor die UV-hoofgebou te hou by http://afriforumjeug.co.za/steyn-moet-bly/.

AfriForum en AfriForum Jeug sal binnekort verdere aksies ter bewaring van die beeld aankondig.

 

Soortgelyke plasings