|

Maak dié week jou hart en hand vir slagoffers van plaasmoorde oop

Sy hardloopskoene, kop en hart is reg.

Vandeesweek sal Bennie Roux (41), ’n ultramarathonatleet van Centurion, sy alles gee wanneer hy meer as 250 km in die Vrystaat ten bate van slagoffers van plaasaanvalle en –moorde gaan hardloop.

Die slagoffers wat ná so ’n tragedie agterbly, is ’n saak wat hom baie na aan die hart lê en hy glo bewusmaking is die enigste manier om meer aandag hierop te vestig en die regering te dwing om meer te doen om boere te beskerm.

Roux is ’n boorling van Reitz in die Vrystaat en sê die hartseer van plaasmoorde het eers vir hom ’n werklikheid geword toe mense na aan hom direk daardeur geraak is. “Skoolvriende, ’n oom en tannie en hul destydse bure op ’n plaas buite Reitz was almal al slagoffers. Dit ruk ’n mens as dit so naby aan jou kom.”

Vandeesweek gaan hy ’n daadwerklike verskil maak met sy deelname aan AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid se #HardloopVirHoop-veldtog. Hy hoop dat AfriForum-lede en ondersteuners hom ruim per kilometer sal borg of enige ander donasies ter ondersteuning van slagoffers sal maak.

Roux is ’n kranige atleet wat onder sy vriende as Yster bekend staan. Hy het die Comrades Marathon al 11 keer voltooi. Vroeër vandeesmaand het hy derde in die moordende Moab-marathon geëindig wat in die Amerikaanse deelstaat Utah aangebied is. Dit het om 2 dae, 22 uur en 39 minute geneem om die marathon van sowat 392,6 km te voltooi.

Volgens Roux moet ’n mens regtig kophou en beplan wanneer jy ’n roete aanpak.

Hy vertel sy liefde vir hardloop het eers later gekom nadat hy besluit het om sy ouer broer uit te daag. Hy was eintlik ’n fietsryer wat die plaaspaaie in die Vrystaat platgery het. Maar nadat hy inligtingstegnologie by Tukkies kom studeer het, het hy gou besef dat fietsry eintlik gevaarlik is. Vandag kyk hy nie terug nie en behaal hy talle welslae as atleet.

Volgens Roux hou hy van uitdagings en as dit enigsins moontlik was sou hy die wêreld vol getoer het om nuwe hardlooproetes aan te pak.

Maar vir nou fokus hy op vandeesweek se #HardloopVirHoop-roete:

  • 22 Oktober: Roux spring in Villiers weg en hardloop grondpad tot in Frankfort. Hy hou om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Wilgerivier in Frankfort.
  • 23 Oktober: Hy spring by die Frankfort-gholfklub weg en hardloop tot in Reitz. Roux hou om 13:30 ’n muntlegging by die Hoërskool Reitz.
  • 24 Oktober: Roux spring by die Hoërskool Reitz weg en hardloop na Bethlehem. Hy behoort om 17:00 by die Christensentrum in Bethlehem te wees.
  • 25 Oktober: Roux spring by Lavender Hill op die N5 weg en hardloop na Fouriesburg. ’n Poeierverfpretloop (colour run) vind om 12:00 by die Fouriesburg Intermediêre Skool plaas.
  • 26 Oktober: Hy spring in Fouriesburg weg en sluit die dag by die Roosfees op Oranje Gasteplaas af.

Jy kan dié projek ondersteun deur:

  • ’n Skenking of donasie: Skenk ’n bedrag per km (50c, R1, R5, R100 en so meer: 50c per km is byvoorbeeld R125).

Skenkings kan aan die Slagofferfonds gemaak word by:

Begunstigde: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 498 983 98
Tak: Centurion
Takkode: 261-550
Verwysing: Hardloop vir Hoop

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ook ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, bystand tydens hofsake, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Soortgelyke plasings