Só lyk Noordwes se vullisterreine


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 1 uit die 15 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk van die beste vullisterreine met die slegste:

Beste Persentasie Slegste Persentasie
Mooinooi 94% Coligny 0%
Rustenburg 62% Sannieshof 2%
    Koster 4%
    Klerksdorp 10%
    Delareyville 10%
    Lichtenburg 16%
    Vryburg 32%

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Alta Pretorius, Sampie Steinberg en Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerders in Noordwes, is die meeste vullisterreine in Noordwes in ’n haglike toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur en ’n tekort aan instandhouding.”

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings