Só lyk Noord-Kaap se vullisterreine


AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 2 uit 12 vullisterreine wat in die Noord-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk die beste vullisterreine met die slegste:

Beste Persentasie Slegste Persentasie
Kimberley 82% Hartswater 14%
Orania 80% Jan Kempdorp 10%
Aliwal-Noord 32% Elliot 6%
    Williston 4%
    Hopetown 2%

 
Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, is die meeste vullisterreine in die Noord-Kaap in ’n haglike toestand. “Meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan nalatigheid en wanbestuur van die terreine.”

Smit sê voorts dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en afval wat onwettig op die terrein gestort word van die grootste probleme was wat AfriForum tydens dié oudit opgemerk het.
AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op peil gebring word.

Soortgelyke plasings