|

Só lyk die topvyf finaliste van die AfriVriendelik entrepreneurskompetisie

AfriVriendelik, ‘n AfriForum-inisiatief wat ten doel het om Afrikaans in die sakewêreld te bevorder, het vanjaar weer ʼn opwindende entrepreneurskompetisie aangebied wat ten doel het om entrepreneurs wat in Afrikaans sake doen se onderneming ’n hupstoot en wye blootstelling te gee.

“Hierdie kompetisie is vir enige entrepreneur wat trots is op sy of haar onderneming en dit verder wil uitbou. Ons het jong én ervare entrepreneurs aangemoedig om deel te neem vir die verskeie blootstellingsgeleenthede wat dié kompetisie bied,” sê Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik.

Lede van die publiek het vir hul topvyf gunsteling-ondernemings gestem en ʼn uitgesoekte paneel sal die wenner kies wat op 19 November 2018 aangekondig sal word.

Die topvyf finaliste (in geen spesifieke volgorde) vir die tweede AfriVriendelik entrepreneurskompetisie is soos volg;

Agterosse Clothing Co.

Agterosse is ’n eg-Afrikaanse aanlynwinkel wat klere, bykomstighede en leerprodukte vir beide mans en dames verkoop.

IsMozBos

IsMozBos se Bosseep is ‘n klein stukkie bosveld-bederf waarmee jy op reis of by die huis die muskiete kan eenkant hou en jou verlustig aan die onmiskenbare geur van die bosveld. IsMozBos verkoop ’n verskeidenheid van velsorgprodukte asook ’n reeks blikbekers.

Oh-Lief

Oh-Lief is in 2010 op die been gebring deur Christine Buchanan en Louiza Rademan, twee susters wat ’n reeks organiese velsorgprodukte wou begin wat baba- en omgewingsvriendelik is. Hul reeks het vinnig uitgebrei en vandag verkoop hul ’n verskeidenheid van velsorgprodukte, insluitend lipsalf en sonbrandroom.

Die Voriemôl

Die Voriemôl is die Voortrekkers se unieke aanlynwinkel wat ’n verskeidenheid geskenke, speletjies, boeke en Voortrekkerdrag verkoop.

Moi Travel

Moi Travel is ’n gebruikersvriendelik aanlyn-akkommodasiewebblad wat enige reisiger sal help om die beste bestemming vir ’n blaaskans te vind.

Soortgelyke plasings