Loopbane

Waarom ’n loopbaan by AfriForum bou?

AfriForum bied ’n gesonde, gebalanseerde en gelukkige werksomgewing met dinamiese, talentvolle personeel wat almal hard werk om ’n verskil te maak.

Die organisasiekultuur is op Christelike waardes soos eerlikheid, openlikheid, vertroue, samewerking en lojaliteit gebou.

’n Loopbaan by AfriForum skep die geleentheid om aan ’n organisasie te behoort wat op mense fokus en waar jou kwalifikasies, ondervinding, eienskappe en vaardighede ’n belangrike bydrae sal lewer.

Om te behoort en om ’n verskil te maak, is ’n inherente behoefte wat elke persoon het. AfriForum bied personeel die unieke geleentheid om aan beide hierdie behoeftes te voldoen.

Hoewel ons jou vertel hoe dit is om vir ons te werk, is dit beter om dit uit die perd se bek te hoor: Ons personeel.

Opleiding en ontwikkeling

AfriForum plaas klem op die ontwikkeling van personeel en skep voortdurend opleiding-en-ontwikkelingsgeleenthede. Een van menslike hulpbronne se inisiatiewe, Afskop, is juis daarop gemik om dié geleenthede te identifiseer en te bied. Afskop erken elke persoon se behoefte om verder te ontwikkel en dui op ons strewe om opleiding-en-ontwikkelingsgeleenthede te identifiseer waarmee hulle die pad na ontwikkeling kan afskop.

Die organisasie bied jaarliks geleenthede vir tersiêre opleiding en moedig personeel aan om vir sertifikaat-, diploma-, voorgraadse én nagraadse studies in te skryf – selfs tot op doktorsgraadvlak. Daar is ook ander ontwikkelingsgeleenthede wat in samewerking met eksterne diensverskaffers aangebied word wat sowel interne as eksterne opleiding en ontwikkelingsgeleenthede vir personeel insluit.

Buiten ’n deursigtige werwingsproses bied dié groeiende organisasie interne groeigeleenthede en vakante poste word sowel intern as ekstern geadverteer.

Menslike hulpbronne ondersteun personeel ook met loopbaanontwikkeling en mentorskappe, en psigometriese toetse en talentontleding vorm deel van dié proses.

Werknemerswelstand

AfriForum fokus daarop om ’n gesonde, gebalanseerde werksomgewing te handhaaf. Raakvat, nóg ’n menslikehulpbroninisiatief, fokus op werknemerwelstand en om ’n deurlopend holistiese benadering tot welstand aan personeel te bied. Die inisiatief sluit onder meer interaktiewe inligtingsessies, maandelikse nuusbriewe en werknemersbystandprogramme in.

Die term Raakvat verwys na elke persoon se behoefte en verantwoordelikheid om hul eie persoonlike welstand doeltreffend te bestuur en enige wanbalans wat bestaan raak te vat en in balans te bring.

Loopbaangeleenthede

Ons is altyd op soek na talent en ons raak opgewonde wanneer ons aansoeke ontvang.

Kyk gerus hieronder na beskikbare geleenthede.

www.werknet.co.za​