--> -->
Spyskaart +

Linkse Lesufi se twaalf “O’s”

Mei 15, 2019 deur Flip Buys

Linkse Lesufi se twaalf “O’s”

Die nuutste probeerslag van Gauteng se Panyasa Lesufi om Afrikaanse skole met ‘n Aanlynaansoekstelsel te vernietig, is net betyds met regsopotrede deur AfriForum, die SOS en FEDSAS gestop. Dit bly onbegryplik dat Lesufi Afrikaanse presterende skole probeer afbreek, in plaas van swak presterende swart skole te verbeter. Die vraag is, hoe lyk die wêreld vanuit die oogpunt van linkses soos Lesufi, wat met ʼn sosialisties-gekleurde ideologiese donkerbril na die wêreld kyk?

Die linkse ideologiese afgod kan tot twaalf “O’s” vereenvoudig word, omdat hulle dit net aanpas by elke vraagstuk:

  1. Ongelykheid

Sosialisme is in wese ʼn “gelykheidsideologie”, en ongelykheid is hul kernvraagstuk. Hul gelykheid beteken nie gelyke behandeling nie, maar om alles gelyk te maak. Dis ʼn gelykmakingsideologie, wat nie ʼn gelyke wegspring is nie, maar ʼn gedwonge gelykop by die eindstreep. Die swak swart openbare skole pla mnr. Lesufi, maar die top presterende Afrikaanse skole grief hom. Daarom wil hy eerder Afrikaanse skole aftrek as om die ander skole op te trek. Lesufi glo nie net dat mense gelyk moet wees nie, maar dat almal dieselfde moet wees. Daarom wil hy skole kaap om kinders te “standaardiseer”- eenvormigheid onder die dekmantel van verskeidenheid. Een nasie, een taal, een geskiedenis, een ideologie, een party, een leier- Lesufi. Hy wil die multikulturele werklikheid van die land omskep met sy monokulturele ideologie. Dis nie nasiebou nie, maar nazibou. Die metode is nie transformasie nie, maar transfornazi- waar rasseformules wat die nasionale bevolkingsamestelling moet weerspieël, orals afgedwing moet word.

  1. Onreg

Marx se dissipels sien enige ongelykheid outomaties as ʼn onreg. Mnr. Lesufi glo nie dat hy die swak skole vrot regeer nie; hul swak prestasie is eerder die goeie skole se skuld. Sosialisme is in wese blaampolitiek.

  1. Opstand

Die linkse Lesufi’s se resep vir die oplossing vir die ongelyke swart skole is gevolglik nie om hulle te verbeter nie, maar om in opstand te kom teen goeie Afrikaanse skole. Vandaar die deurlopende aanvalle, politieke magsmisbruik, verandering van wette om staatsbeheer te versterk, en aandrang dat die howe radikale transformasie moet afdwing. Die presteerders moet onderwerp en verdruk word in ʼn kwalik bedekte “diktatorskap van die proletariaat”.

  1. Opposisie

Sosialisme is in wese ʼn “opposisie-ideologie” wat nie ontwerp is om te regeer nie. Daarom misluk sosialistiese regerings. Dis ʼn ideale “struggle”-ideologie om aggressief die bewind of skole oor te neem, maar dis ʼn rampspoedige ideologie om te probeer regeer. Sosialiste het net nie die intellektuele ideologiese sagteware om suksesvol te regeer nie. Die vereistes vir ’n suksesvolle oorname van ’n skool of ‘n land bots ongelukkig reëlreg met die vereistes om suksesvol te regeer.

  1. Omverwerp

Linkses wil nie die werklikheid verbeter nie; hulle wil dit met rewolusie omverwerp en ʼn totale nuwe werklikheid skep. Die ANC beken openlik hul voortgesette verbintenis tot ʼn “(nasionaal demokratiese) rewolusie”. Daarmee word bedoel dat hulle wette in plaas van wapens gebruik, maar die einddoel bly dieselfde. “Radikale transformasie”, is bloot die polities korrekte kodewoord vir rewolusie, en die uitskakeling van ongelykhede die regverdiging daarvoor. Linkses weier om te glo dat sosialisme ʼn valse god kan wees. Die werklikheid is “verkeerd”, nie hul ideologie nie, en moet “getransformeer” word om by die ideologie in te pas.

  1. Ontkenning

Daar word nie verantwoordelikheid vir foute aanvaar nie; dit word ontken en die blaam word op iemand anders geplaas. Dis die Afrikaanse skole se skuld, of rassisme, of apartheid, of selfs Jan van Riebeeck! Die vraag is nie: “Wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen” nie. Dit is: “Wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen!”

  1. Oorheers en onderdruk

Die “bevryders” word vinnig die oorwinnaars en later die oorheersers. Nadat die politieke mag weereens met die verkiesing demokraties bekom is, word dit gaandeweg al meer outokraties aangewend om die media, die opposisie, sakelui, minderhede en die samelewing te onderdruk. ʼn Ideologie van radikale transformasie vereis onderdrukking om dit af te dwing. Niemand doen vrywillig afstand van ʼn skool of van eiendomsreg nie. Dit is nie  Christelike mededeelsaamheid van ʼn vrywillige “myne is joune” nie. Die sosialistiese herverdeling is ʼn gedwonge ideologie van “joune is myne”. Daarom eindig sosialisme altyd in armoede en onderdrukking.

  1. Oorskat en oorlaai

Sosialiste sien die staat – in plaas van die privaatsektor – as die ekonomie se lokomotief. Die staat is die broodwinner, en nie net die huishoudster nie. Hulle glo mense moet “stem vir ʼn lewe”, en nie “werk vir ʼn lewe” nie. Die oorskatting van die vermoë van die staat om die regering se doelwitte uit te voer is kenmerkend van alle sosialistiese state. Die oorlading van die staat lei gewoonlik tot die verval van die staat wat nie die vrag kan hanteer nie. Daarom is daar altyd ʼn gaping tussen wat die regering wíl doen en wat die staat kán doen.

  1. Oorsake

Linkses vereenvoudig die oorsaak van die land se probleme tot onderdrukking deur die vorige orde. Daarom werk hul vereenvoudigde “oplossings” van transformasie van die orde ook nie. Sosialiste onderskat die krag van vryheid. Hulle sien hul stemmers nie as aktiewe “burgers” nie, maar as passiewe politieke passasiers aan wie die staat “dienste” moet lewer. Die slagspreuk is dus nie “goeie regering” nie, maar “dienslewering”. Hierdie politieke hongerdieet maak mense nooit versadig nie, en hulle wil al meer dienste verniet hê en al minder daarvoor doen. Hulle sit en wag vir die beloofde “beter lewe vir almal”. Die politiek skep verwagtings waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie. Daarom eindig linkse regerings altyd by die onderdrukking van die presterende deel van die bevolking.

  1. Ophef in plaas van ontwikkel

Linkses wil ongelykheid met kitsresepte soos staatsmag en herverdeling aanpak, en nie met volhoubare oplossings soos die verbetering van die skoolstelsel en ekonomiese groei nie. Wanneer hierdie kitsoplossings noodwendig misluk, word ander daarvoor blameer. Hulle wil nie aanvaar dat werkskepping die gevolg is van ekonomiese groei, gedryf deur goeie regering en moedertaal onderwys en opleiding nie. Daarom is sosialisme in wese ontmagtigend, omdat mense nie toegerus word om vir hulself te sorg nie. Dit is iemand anders se skuld dat hulle ongelyk is, en daarom is dit iemand anders se verantwoordelikheid om hulle op te hef. Hulle word immers wysgemaak dat hulle nie ʼn aandeel het aan hul probleem of die oplossing nie.

  1. Onderverdeel

Die linkse resep is altyd om die koek te onderverdeel, in plaas daarvan om die koek groter te maak. Die uiteinde is dat al meer mense later om ʼn al kleiner koek meeding, en dat daar soms net krummels oorbly om oor te veg. Die slagspreuk is “bloei in plaas van groei”.

  1. Ondergang

Hel op aarde word veroorsaak deur sosialistiese ideoloë se projek om hemel op aarde te probeer skep. Sosialisme is altyd gewild in lande waar dit nie kan werk nie, en onnodig in lande waar dit wel kan werk. Die harde werklikheid is dat vrye mense nooit gelyk is nie, en gelyke mense nooit vry nie. Daarom is die stryd van skole, ouers en kinders se vryheid om hul grondwetlike regte uit te leef, alle demokrate se vryheidstryd.  Vryheid is die antwoord op Kommunistiese “gelykheid”.