|

Limpopo-departemente vasgevat oor R1,11 miljard se wanbesteding

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum het vandag as deel van sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog – wat Maandag afgeskop het – strafregtelike klagtes teen dr. Sipho Kababa, hoof van Limpopo se departement van gesondheid, en MC Matthews, rekenpligte beampte van die departement van onderwys van 2013 – 2014, ingedien.

Die veldtog is daarop gemik om individue en departemente vas te vat wat ingevolge artikel 86 (1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1998, moontlik oortree het deur belastinggeld te verkwis of wan te bestee.

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria,  meen die optrede van die burgerlike samelewing word toenemend al hoe belangriker gegewe die mislukking van die staatsektor.

Oor die veldtog wat die burgerregte-organisasie aangepak het, sê Monique Taute, AfriForum se nasionale veldtogkoördineerder, dat onreëlmatige uitgawes aangegaan is wat strydig is met wat die Wet voorskryf. Vrugtelose en verkwiste uitgawes is uitgawes wat tevergeefs gemaak is, maar vermy kon word as daar redelike voorsorg getref is. Dié buitensporige uitgawes kon voorkom word indien die departementshoofde hul verpligtinge nagekom het, meen sy.

Die klagtes teen die individue is ingedien nadat die burgerregte-organisasie die departement van gesondheid se jaarverslag asook die ouditeur-generaal (OG)

Die OG se verslag van die provinsie se departement van gesondheid toon dat die departement vrugtelose en verkwiste uitgawes van R43 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het. Die departement van onderwys het in dieselfde jaar volgens die OG se verslag nie net R73 miljoen aan vrugtelose en verkwiste uitgawes bestee nie, maar ook R994 miljoen aan onreëlmatige uitgawes bestee.

AfriForum sal oor die volgende twee weke agt provinsies besoek waartydens strafregtelike klagtes teen 13 provinsiale departementshoofde ingedien sal word. Die publiek word aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

 

 

Soortgelyke plasings