Lesufi se voorgestelde verandering aan skoolregulasies bring toekoms van Gauteng-skole in gedrang


AfriForum, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit het vandag tydens ’n mediakonferensie oor die voorgestelde wysigings aan die Gautengse skoolregulasies vir 2019 aangekondig dat dié organisasies van mening is dat die wysigings aan die regulasies moontlik teenstrydig met die Grondwet is en dat dit skoolbeheerliggame se magte sal inperk om skole suksesvol te bestuur.
Met die voorgestelde wysigings aan die skoolregulasies wat op 30 Julie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is, wil Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, volle beheer oor die plasing van leerlinge in skole kry. Sou dié voorstelle aanvaar word, sal skoolgemeenskappe geen sê meer oor die taal van en toelatings tot hul skole hê nie. Dit sal op die kaping van skole in Gauteng neerkom.

“Tagtig persent van Suid-Afrikaanse skole is reeds wanfunksioneel. Die verandering van die skoolregulasies sal tot verdere wanfunksionaliteit lei aangesien die staat nie bevoeg is om skole suksesvol te bestuur nie. AfriForum het om hierdie rede vandag ’n brief gestuur aan Angie Motshekga, minister van onderwys, waarin ons eis dat Lesufi ontslaan en ’n nuwe LUR vir onderwys aangestel word wat in die belang van gehalte-onderwys en leerderwelstand sal optree – en nie vir eie politieke gewin nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se koördineerder van onderwys.

Indien die skoolregulasies verander word, sal alle aansoeke, plasings en bestuur sentraal deur die aanlyn stelsel en departementsamptenare beheer word. Die organisasies is van mening dat dit dus op ’n diktatorskap oor skole sal neerkom, wat teenstrydig is met die demokratiese bestel wat die Grondwet en die Suid-Afrikaanse skolewet ten doel het.

“Navorsing wys dat skole floreer in gevalle waar die gemeenskap betrokke is en ’n aktiewe rol in die bestuur van ’n skool speel. Indien die LUR beheer van hierdie funksies oorneem, sal die gemeenskap geld, tyd en kundigheid onttrek,” sê Melanie Buys, hoof van stelsels by die SOS.
“Uitnemende skole steun swaar op geld en hulpbronne vanuit die gemeenskap, aangesien hulle al minder ondersteuning van die regering kry. Dit is ironies dat Lesufi meer mag oor openbare skole wil hê, terwyl regeringsubsidies en gesubsidieerde poste aan skole afneem. Skole sukkel ook toenemend om geld vanaf die departement terug te kry wanneer hulle ouers van skoolgeld vryskeld. Dit maak meer sin dat persone en groepe wat openbare skole befonds meer beheer oor die bestuur van ’n skool as die regering moet hê,” sê Buys.

Solidariteit meen dat die wysigings aan die regulasies polities opportunisties en ’n vorm van magsmisbruik is.

“Die voorgestelde wysigings sluit diegene wat ten nouste by die bestuur en sukses van openbare skole betrokke is summier uit, en stel voor dat hierdie plek deur die staat ingeneem word,” sê Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsdienste.
“Hierdie doelgerigte poging om openbare skole volkome van die staat afhanklik te maak, is onrusbarend. Dit is daarom imperatief dat die publiek se teenkanting duidelik moet blyk,” voeg Human by.

Die organisasies wil die publiek ten sterkste aanmoedig om aan die openbaredeelnameproses deel te neem deur voor 29 Augustus 2018 op die onderskeie organisasies se webtuistes teen die kaping van ons skole kommentaar te lewer.

Soortgelyke plasings