Lekwa Plaaslike Munisipaliteit moet verantwoording doen


Die AfriForum-tak in Standerton het op 27 Maart 2017 ’n skrywe aan David Mabuza, premier van Mpumalanga, S.P.D. Sikhosana, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake vir Mpumalanga, asook Linda Tshabalala, munisipale bestuurder van die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit, gerig. Dít volg nadat die plaaslike tak reeds sedert Januarie 2017 sonder sukses ’n vergadering met die munisipale bestuurder probeer reël.

“AfriForum soek antwoorde van die munisipale bestuurder, want die manier waarop die munisipaliteit die gemeenskap se insette verontagsaam, asook hul pligte versuim, is onaanvaarbaar,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Ons het talle kere probeer om ’n vergadering met die munisipale bestuurder te reël, maar elke keer voor geslote deure opgedaag. Ons het daarom geen ander opsie as om die brief aan die premier, asook die LUR te stuur nie,” sê Leon Enslin, voorsitter van die AfriForum-tak in Standerton.
“AfriForum het ook verskeie probleemareas aan die munisipaliteit uitgewys en verwag van Tshabalala om verantwoording hiervoor te doen. Indien die munisipaliteit nie die probleme aanspreek nie, sal AfriForum die gemeenskap bystaan in die vorm van selfdoenprojekte,” sluit Coetzer af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings