|

Lees Forum Tydskrif ook daar ver oor die water

Forum Tydskrif, AfriForum se lede-tydskrif, is nou ook digitaal beskikbaar!

As jy ’n ondersteuner en lid van AfriForum is en in die buiteland bly, kan jy nou ook aanlyn oor die burgerregte-organisasie se werksaamhede, aksies en veldtogte lees.

Forum Tydskrif word aan meer as 150 000 lede versprei en ’n behoefte om dit aanlyn te lees, is vroeër by van ons lede geïdentifiseer. Elke uitgawe is propvol inligting oor alles wat die organisasie aanpak en die suksesse wat ons behaal ter beskerming en uitbouing van Afrikaner-minderhede se regte.

In die jongste uitgawe is daar artikels oor AfriForum Netwerk, ’n inisiatief ter bevordering van ondernemings wat in Afrikaans diens lewer, ons internasionale veldtogte ter bewusmaking van plaasmoorde en dreigemente oor onteiening sonder vergoeding, die vordering met hofsake deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die uitbreiding van AfriForum-takke en buurtwagte om veiligheid in gemeenskappe uit te bou.

In Forum Tydskrif voer ons ook gereeld onderhoude met bekende kunstenaars soos Appel, Adam Tas, Johan Vorster en MD Greyling wat verduidelik waarom hulle lid van AfriForum is en nie skroom om vir hul Afrikanerskap op te staan nie.

In die komende maande gaan AfriForum ook sy VEGenBOU-strategie verder uitrol ten einde selfbestuur te bevorder en vir ’n beter toekoms aan die suidpunt van Afrika te werk.

Al is jy tans in die buiteland, kan jy ons ook help bou aan die toekoms van jou geliefdes wat nog hier is. AfriForum het reeds meer as 233 000 lede. Help ons om die kwartmiljoen-merk binnekort te bereik.

Vir meer inligting besoek www.vriendevanafriforum.co.za

Soortgelyke plasings