|

Lasbrief uit vir Thandi Modise se inhegtenisname in dieremishandeling-hofsaak

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, het versuim om vandag in die Potchefstroomse Streekshof te verskyn op klagtes van dieremishandeling teen haar. Dít volg nadat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid verlede jaar aangekondig het dat hulle Modise namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) privaat gaan vervolg. ’n Lasbrief vir haar inhegtenisname is vandag uitgereik hangende haar verskyning in die hof op 31 Maart 2020.

Modise se regsverteenwoordiger het aangevoer dat sy deur pres. Cyril Ramaphosa aangesê is om die COVID-19-pandemie te help bestuur. Die landdros het egter redes versoek oor waarom Modise nie haar pligte kon delegeer of aan die President kon kommunikeer dat sy op ernstige aanklagtes in die hof moet verskyn nie.

“Modise gaan op 31 Maart moet verduidelik waarom sy afwesig was, waarna vervolging hopelik uiteindelik kan begin. Dit is vir AfriForum onaanvaarbaar dat Modise nie vandag in die hof verskyn het nie en bloot aanvoer dat die rede vir haar versuim vanweë haar amp is. Niemand is bo die reg verhewe nie, nie eers die speaker van die Nasionale Vergadering nie. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid sien daarna uit om op 31 Maart met die verhoor te begin sodat Modise uiteindelik kan verantwoording doen vir hierdie wrede geval van dieremishandeling,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

Volg dié skakels vir meer inligting oor die Thandi Modise-saak:

Soortgelyke plasings