|

Lank lewe Afrikaans as moedertaal!

Suid-Afrika vier soos die res van die wêreld vandag (21 Februarie) Internasionale Moedertaaldag.

Die tema is: Op pad na ’n volhoubare toekoms deur veeltalige onderwys.

’n Mens kan met reg vra hoeveel daar werklik te vier is gegewe die knaende en volgehoue aanslag op Afrikaans as onderrigmedium vanuit regerings- en ander oorde. Nie net Afrikaans word toenemend misken nie. Ook die land se ander inheemse tale word nie bevorder, ontwikkel of ’n plek in die son gegun nie. Suid-Afrika het vir alle praktiese doeleindes Engels as enigste ampstaal wat in die kele van 50 miljoen mense afgedruk word. Boonop is dit uiters ironies dat die ANC-regering alles in sy vermoë doen om alles in Engels te doen, terwyl dít as die taal van gehate kolonialiste bestempel word.

Al kry die land se inheemse tale nie die behandeling wat dit moet nie, kan die belangrikheid van ’n mens se moedertaal en onderrig in dié taal nie afgemaak of onderskat word. Gelukkig is daar nog baie taal- en onderwyskundiges, sosiolinguiste en talle kultuur- en ander organisasies wat hulle beywer vir die erkenning en uitbouing van inheemse tale en moedertaalonderrig – ook in Afrikaans.

As burgerregte-organisasie fokus AfriForum veral op die beskerming en behoud van Afrikaans as onderrigtaal. Die organisasie was verlede jaar en vanjaar by verskeie hofstryde en veldtogte betrokke ter behoud en bevordering van Afrikaans. AfriForum het ook die woord “moedertaalonderrig” eksklusief aangekoop as deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se fondswerwingsprojek, “Borg ʼn Woord”. Die WAT – kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke – dokumenteer die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang en is die grootste projek ooit rondom Afrikaans. Fondse word benodig om hierdie groot taak voort te sit.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het AfriForum “moedertaalonderrig” aangekoop om alle Suid-Afrikaners bewus te maak van die voordele wat hierdie internasionaal erkende reg vir mense inhou. In lande waar moedertaalonderrig geredelik beskikbaar is, is daar oor die algemeen meer politieke stabiliteit, minder werkloosheid en hoër vlakke van geletterdheid. Leerlinge is meer geneig om hulle skoolloopbane en studies te voltooi wanneer hulle onderrig in hulle moedertaal ontvang. Hulle vaar beter in vakke soos wiskunde en wetenskap omdat hulle abstrakte konsepte assimileer in hulle moedertaal, en nie net memoriseer in ʼn tweede taal nie. AfriForum se ideaal is dat elke Suid-Afrikaner uiteindelik toegang tot hoë gehalte-onderrig in sy of haar moedertaal moet kry.

Suid-Afrikaners is volgens Bailey nog veels te onbewus van hulle taalregte. Hulle besef nie dat die erkenning daarvan deel vorm van die erkenning van hulle menswaardigheid, soos gewaarborg in die Grondwet, nie.

“Taal is nie bloot net ʼn kommunikasiemedium nie – dit is ʼn onlosmaaklike deel van elke mens se identiteit. Ons moet die toepassing van moedertaalonderrig in Suid-Afrika aktief bevorder. Dit is ook noodsaaklik om projekte soos die WAT te ondersteun en ons moedertale so uit te bou,” het sy gesê.

Carien Bloem, projekkoördineerder van onderwys by AfriForum, verduidelik dat projekte soos Dink of Sink (onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerlinge regoor die land), SLIM (’n veldtog om moedertaalonderrig te bevorder) ook daarop gemik is om mense oor Afrikaans bewus te maak. Met die SLIM-veldtog is daar vanjaar die Slimkoppe-produksie, geskryf deur die akteur en dramaturg Chris Vorster, wat in skole in Noordwes opgevoer gaan word.

Ander projekte en instansies wat Afrikaanse bevorder, sluit in:

Afrikaans.com: Dit is ’n saamkomplek vir alles Afrikaans. Hier kan die verskillende variante en dialekte soos Kaapse Afrikaans, Swartland-Afrikaans, Bolandse Afrikaans, Weskus-Afrikaans, Oos-Kaap-Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Oranjerivier-/Griekwa-Afrikaans, Boesman-Afrikaans, Richtersveld-Afrikaans, Ghoema, Soweto-Afrikaans en nog meer ontdek en gevier kan word.

Die ATKV: Dié organisasie het ook vanjaar ’n kompetisie aangebied en wou van mense weet wat hul moedertaal vir hul beteken. Hulle kon deelneem deur ’n kort sin of slagspreuk hieroor te skryf waarmee pryse gewen kon word.

Die FAK: Die organisasie het sy myAfrikaans-app, ’n eenstop-Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis-toepassing ontwikkel wat gratis afgelaai kan word. Die nuutste FAK-Sangbundel is ook elektronies op die myAfrikaans-app beskikbaar.

Die AfrikaanseTaalraad: Die ATR is behulpsaam met die saamstel van moedertaalinligting vir skole en bevorder Afrikaans en haar sprekers in hul volle diversiteit deur erkenning te gee aan alle sprekers van die taal, van Standaardafrikaans deur tot Kaaps.

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA): Die instituut het in 2016 ’n Varsgebek-kompetisie gehou waarin mense gevra is om hul unieke woorde en uitdrukkings in te stuur sodat dit in ’n databasis opgeneem en vir die nageslag bewaar kan word. Die kompetisie word weer vanjaar aangebied.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afikaanse Skole (Fedsas): Dié organisasie steun ook vanjaar Internasionale Moedertaaldag en het by monde van Paul Colditz, uitvoerende hoof, gesê dit kan nie genoeg beklemtoon word dat leerlinge in die eerste paar jaar van hul skoolloopbaan in hul moedertaal onderrig moet word. “Ouers maak ’n fout om hul kinders van die begin af in Engelse skole te plaas omdat Afrikaans op universiteitsvlak onder druk is. Kinders moet minstens in die eerste sewe jaar van onderrig in hul moedertaal onderrig word.”

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA): Die VRA stel vandag sy Afrikaans vertaalde Landdroshofreëls in Pretoria bekend.

Tiaan van Dyk, voorsitter van die VRA, het gesê die vertaling van die Landdroshofreëls in Afrikaans is die vereniging se bydrae tot die behoud van Afrikaans as regstaal. Die projek is finansieel ondersteun en moontlik gemaak deur die dr. Marie Luttig Trust en het nagenoeg R70 000 gekos om te voltooi. “Dit is belangrik om die gebruik van die taal in ons howe te bevorder en te behou omdat Afrikaans, naas Zoeloe en Xhosa, die taal in Suid-Afrika is wat die meeste deur mense gepraat word. Sensusdata toon dat daar in vergelyking met Engels, meer mense in Suid-Afrika is wat Afrikaans as huistaal praat, maar tog word wetgewing dikwels slegs in Engels gepubliseer en glad nie in Afrikaans nie.”

Die VRA het al verskeie ander stukke wetgewing vertaal en beplan om nog talle projekte waardeur Engelse wetgewing in Afrikaans vertaal word, aan te pak. Daarby gaan die VRA vanjaar ook met ʼn proses begin om die vertalings amptelik te laat erken.

Die VRA doen ʼn beroep op die reëlsraad en die parlement om die VRA-vertaling van die Landdroshofreëls as amptelike vertaling te erken sodat dit ook amptelik deur regspraktisyns in gebruik geneem kan word.

Afrikaans-Vriendelik: Dié inisiatief van AfriForum is daarop gemik om Afrikaans as taal onder sakelui en in ondernemings te bevorder. ’n Webtuiste is beskikbaar waar ondernemings gratis hul produkte en dienste in Afrikaans kan bemark. Afrikaans-Vriendelik bied ook vanaand sy Tinteltong-toekennings aan ter viering van Internasionale Moedertaaldag.

Volgens Sanderien van der Walt is Afrikaans lewendig in die sakewêreld en AfriForum het verlede jaar vasgestel dat tot 30% van die Suid-Afrikaanse mark en ondernemings hul dienste in Afrikaans wil aanbied. “Daar is ʼn enorme hoeveelheid entrepreneurs wat werklik hard werk om kop bo water te hou in die moeilike ekonomiese omstandighede van vandag. Met die toekennings wil ons graag erkenning gee aan dié ondernemings wat inisiatief neem en Afrikaans deur hulle werksaamhede bevorder. Ons sien hierdie ondernemings en die verskil wat hulle maak, beslis raak.”

Solidariteit: Die vakbond vier ook vandag Internasionale Moedertaaldag en het in ’n verklaring gesê twee strategieë word gevolg om Afrikaans te beskerm en as onderrigtaal te behou. Dit is saam met AfriForum by verskeie regsprosesse betrokke wat primêre, sekondêre en tersiêre onderwysvlak raak en die instellings gebruik die hofsake om die status van Afrikaans as onderrigtaal te beskerm en te behou. Die tweede strategie wat gevolg word, is die bou van alternatiewe privaat Afrikaanse opleidingsinstellings soos Sol-Tech en Akademia.

Soortgelyke plasings