|

Landboukollege sit R10 miljoen opsy vir herstelwerk ná druk deur AfriForum Jeug

Die druk wat AfriForum Jeug op die Grootfontein-landboukollege in Middelburg in die Oos-Kaap geplaas het oor swak verblyftoestande en algemene geriewe, het vrugte afgewerp.

Die kollegebestuur het pas aangekondig dat R10 miljoen vir herstelwerk en opgradering opsy gesit is.

Dít volg nadat sowat 50 studente vandeesmaand tydens ʼn besoek van AfriForum hul misnoeë met die situasie te kenne gegee deur ʼn nagemaakte varkhok by die kampus se ingang op te rig. Volgens studente is hul ontevrede oor die instandhouding en bestuur van die koshuise, geriewe én die kollege se sewe opleidingsplase.

Dié drastiese stap volg op herhaalde pogings deur studente en AfriForum Jeug om die probleme en griewe van studente onder die kollege-direkteur, mnr. Tino Herselman, en dosente se aandag te bring. ’n Klagte is ook by die Advertensiestandaarde-owerheid van Suid-Afrika (ASASA) gelê oor die wanvoorstelling op die kollege se webtuiste van sommige van die aktiwiteite en fasiliteite wat die kollege aanbied.

Volgens Marike van As, AfriForum se koördineerder vir Kovsies en Grootfontein, sal die burgerregte-organisasie aktief betrokke bly om toe te sien dat die geld wat nou beskikbaar gestel is, reg aangewend word.

Sy sê die studente verwelkom die vrystel van dié fondse, maar is ook steeds bereid om self in te spring, te herstel en skoon te maak met dít wat tot hul beskikking is. “Studente wil ook van hul kant af ’n volhoubare bydrae lewer om die kollege weer ’n plek te maak waarop hul kan trots wees.”

AfriForum is ook in die proses om dié jeugtak van ’n randsnyer en ander algemene gereedskap te voorsien om studente in staat te stel om opknappingswerk te kan doen wanneer nodig.

Kyk die video van AfriForum se besoek aan Grootfontein hier: https://www.youtube.com/watch?v=j4l5dhdBBX4

 

Soortgelyke plasings