|

Landbou-gemeenskap al hoe meer paraat teen plaasmoorde

In 2018 was daar ’n afname in plaasmoorde, maar ’n skerp styging in plaasaanvalle wat daarop dui dat, hoewel die probleem vererger, mense beter na hul veiligheid omsien en hulleself beter verdedig.

Dit is van die bevindinge wat AfriForum vandag tydens ’n mediakonferensie by sy hoofkantoor in Centurion bekendgemaak het.

’n Ontleding deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het bevind dat daar gedurende 2018 sowat 432 plaasaanvalle en 54 plaasmoorde was.

“Plaasgemeenskappe baklei terug en gevolglik is daar ʼn afname in moorde. Meer slagoffers skiet terug, meer word opgelei en meer verdedig hulleself. Die getalle dui aan dat hoewel meer mense oorleef, daar egter steeds ʼn toenemende aanslag op mense op plase is.

“Ons sien dat goedgeorganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture ʼn ystervuis vir gemeenskappe word en dien as ʼn afskrikmiddel vir bedreigings,” se Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron meen dat AfriForum se 132 gemeenskapsveiligheidstrukture en sowat 8 500 aktiewe veiligheidslede, toenemend gerusstelling bied aan gemeenskappe en hulle meer weerbaar maak. Daar is verskeie ander strukture in die land wat ook poog om dit te bewerkstellig. Deel van die sukses is egter dat AfriForum se strukture deel vorm van ʼn suksesvolle nasionale netwerk waar eenheid ʼn belangrike rol speel.

“Boere is toenemend besig om terug te veg teen aanvalle en maak hulself meer weerbaar om te verhoed dat hulle slagoffers word.”

Cameron meen mense se ingesteldheid om hulself te beveilig, word ook verder ingeskerp weens gebrekkige optrede deur sommige polisielede. Hy het verwys na verskeie gevalle in byvoorbeeld die Kameeldrift-omgewing buite Pretoria waar slagoffers geen terugvoer van die SAPD oor die vordering van ondersoeke kry nie. In talle gevalle is die polisie ook baie nalatig om tonele behoorlik vir leidrade te fynkam.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie gaan sy veldtog teen plaasmoorde in die komende jaar met ’n verskeidenheid van aksies verskerp. Dit sluit aksies op plaaslike, nasionale en internasionale vlak in.

“Boere en landelike gemeenskappe is onder geweldige druk. Nie net word hulle aangeval, vermoor of wreedaardig gemartel nie. Daar is ook ’n voortdurende aanval uit onder meer politieke geledere om hul te diskrediteer en verdag te maak. Dis ’n gemeenskap wat deur die regering verwaarloos word en wie se pleidooie op dowe ore val. Om hierdie en ander redes, moet AfriForum sy veldtogte verskerp om die wêreld se aandag op die krisis te vestig.”

Roets meen te midde van die heersende krisis, is daar tog hoop in die sin dat daar minder moorde was.

AfriForum se aksieplan teen plaasmoorde vir 2019 behels:

  1. Plaaslike aksies

* ’n Plaasveiligheidsoudit sal onder AfriForum se lede gedoen word, ingevolge waarvan die risiko van plaasaanvalle geminimaliseer sal word.

* Pertinente fokus sal gedurende 2019 daarop geplaas word om die bestaande veiligheidstrukture te versterk deur dit meer doeltreffend te maak en groter samewerking tussen veiligheidstrukture te bewerkstellig.

  1. Nasionale aksies

* AfriForum het die Wilmien Potgieter-fonds gestig. Die doel van dié fonds is om kinderslagoffers wie se lewens deur plaasaanvalle geraak is, finansieel by te staan en te ondersteun. Die sanger Adam Tas bied eerskomende Vrydag ’n gratis vertoning by Cowhouse Market in Pretoria aan ten bate van die fonds.

Die konsert begin om 18:30 en kaartjies kos R250 per persoon. Kry jou kaartjie hier. 

* AfriForum is van voorneme om ’n voorlegging in die parlement te maak oor die impak van plaasmoorde en stappe wat deur die regering gedoen kan word om dié krisis te pak.

  1. Internasionale aksie

* ’n Opvolgskakeltoer na die VSA sal plaasvind. Vir die doel sal die Elie Wiesel Genocide and Atrocities Prevention Act, wat deur die Amerikaanse president, Donald Trump, onderteken is, bestudeer word.  ’n Bekendstellingsfunksie van Roets se boek, Kill the Boer, sal gedurende die besoek in Washington gereël word. Mariandra Heunis, wie se man, Johann, in 2016 voor haar en een van haar kinders vermoor is, sal ook die besoek meemaak om in breë slagoffers van plaasaanvalle in Suid-Afrika te verteenwoordig.

Soortgelyke plasings